Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf en KSA verskil oor vierdag-toetse

Krieket Suid-Afrika mag dalk sy ondersteuning vir vierdag-toetskrieket duidelik gemaak het, maar Faf du Plessis, die Proteas se kaptein, deel nie dié opinie nie.

Die Proteas se kaptein, Faf du Plessis, is gekant teen vierdag-toetskrieket. Foto: Gallo Images

Die Internasionale Krieketraad (IKR) oorweeg al ’n geruime tyd om die formaat van toetskrieket tot vier dae vanaf 2023 te verkort, maar volgens Sport24 glo Du Plessis nie dit sal die regte besluit wees nie.

“My opinie is dat ek ’n aanhanger van toetskrieket is wat vyf dae duur,” het Du Plessis aan joernaliste gesê nadat sy span hul rieme styf geloop het teen Engeland in die tweede toets wat op Nuweland beslis is.

Dit volg nadat Krieket Suid-Afrika (KSA) Dinsdag spelers en ondersteuners omgekrap het toe hy ’n verklaring uitgereik het waarin hy ten volle sy ondersteuning vir vierdag-toetskrieket gee.

“Die goeie gelykopuitslae van die spel is ná vyf dae beslis,” sê Du Plessis.

“Ek verstaan dat baie geld op die vyfde dag verlore gaan, want so baie toetswedstryde duur nie die volle vyf dae nie. Daar sal altyd opinies oor albei weergawes wees en mense sal 50/50 verskil.

“Ek is steeds ’n puris van die spel, want ek was deel van goeie gelykopuitslae wat oor vyf dae beslis is. En vandag (Dinsdag) is geen uitsondering nie, want daar sou beslis geen uitslag (in Kaapstad) gewees het ná vier dae se spel op dié blad nie.

Du Plessis sê hy weet nie alle toetse duur die volle vyf dae nie, maar dat die langer weergawe van die spel steeds baie waarde toevoeg.

“Wanneer jy ’n moeë Ben Stokes het wat in hardloop aan die einde van ’n lang dag se spel en jy probeer net oorleef, dít is wat toetskrieket ekstra spesiaal maak,” sê hy.

Joe Root, Engeland se kaptein, het self sy ontevredenheid teenoor die IKR uitgespreek ná afloop van sy span se oorwinning met 189 lopies.

“Ek hou van vyfdag-toetskrieket. Ek mag dalk in die moeilikheid wees hieroor,” sê hy.

Die IKR het sy goedkeuring gegee toe Suid-Afrika en Zimbabwe in 2017 proefkonyn gespeel het vir die verkorte weergawe van die spel. Die Proteas het daardie wedstryd gewen.

Intussen het Indië se kaptein, Virat Kohli, gesê dat hy teen die verkorte weergawe van toetskrieket gekant is.

Kohli meen dat dit “nie regverdig teenoor die suiwerste formaat van die spel sal wees” om vierdag-toetskrieket in te stel nie. – Sport24

Meer oor:  Virat Kohli  |  Joe Root  |  Faf Du Plessis  |  Proteas  |  Vierdagtoets  |  Toetskrieket  |  Ikr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.