Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf gaan nou eers sy kop skoonkry

Jy maak nie besluite soos dié terwyl jy emosioneel is nie.

Dit is hoe die Suid-Afrikaanse krieketkaptein, Faf du Plessis, Maandag gereageer het op ’n vraag of hy dalk gaan besluit om afstand te doen van die kapteinskap van die toetsspan.

Rassie van der Dussen. Foto: Gallo Images

“Ek wil nou eers wegkom van al die geraas en bohaai en my kop gaan skoonkry voordat ek terugkom vir die T20-reeks (teen die Engelse),” het hy gesê nadat sy span die vierde en laaste toets in die reeks met 191 lopies verloor het om die reeks met 1-3 prys te gee.

Die druk het algaande opgelaai teen Du Plessis. Hy was boonop Maandag in ’n onderonsie met die Engelse betrokke nadat Sam Curran hom met die bal raakgegooi het.

As iemand met my skoorsoek, gaan ek nie terugstaan nie en sal my sê sê.
Faf du Plessis

Hy het eers woorde met Stuart Broad gehad en hy en die Engelse paaltjiewagter, Jos Buttler, het fisieke kontak gemaak en mekaar gestamp.

“My karakter is sodanig dat ek dikwels betrokke raak in ’n geveg (onderonsie). Ek soek nie vir sulke dinge nie, maar dit blyk my gereeld te vind. As iemand met my skoorsoek, gaan ek nie terugstaan nie en sal my sê sê,” het Du Plessis verduidelik.

Joe Root, die Engelse kaptein, het rakende hierdie voorval gesê hy glo Du Plessis wou homself daarmee opsweep. 

“Tog het ek nie gevoel daar was regtig veel aan gewees nie. Dit was maar eintlik ’n klomp handsakke wat rondgeswaai is. 

“Dit was ook nou nie asof hy en Jos mekaar onderstebo geloop het nie. Nee wat, vir my was dit nie so erg nie. Daar was dwarsdeur die reeks voorvalle aan albei kante, maar ek glo nie daar is kwade gevoelens tussen ons spanne nie,” het Root gesê.

Du Plessis reken wel as die goeie vennootskap tussen hom en Rassie van der Dussen verder kon ontwikkel, kon dinge anders verloop het. 

“Rassie is ’n voorbeeld van hoe die nuwe spelers in die span kan ontwikkel. Voor hierdie toets is enkele tegniese aspekte bespeur waaraan met hom gewerk kon word en dit het Jacques Kallis (kolfafrigter) gedoen. Dit het goeie resultate opgelewer. 

Mense bevraagteken ook nie jou kapteinskap as dinge goed gaan nie. Verloor jy, is dit altyd die kaptein en afrigter in die spervuur.
Faf du Plessis

“In hierdie reeks het ons onsself in die steek gelaat met ons kolfwerk en ons kon nooit in enige eerste beurt genoeg lopies aanteken nie. Ons moes ook in hierdie toets met die bal goed begin het, maar het nie en dit het ons seergemaak. 

“Ek is teleurgesteld en ek weet almal wat betrokke is by die span, sowel as ons ondersteuners, is baie teleurgesteld. Ek het net nie genoeg selfvertroue gehad nie. 

“Ja, dit is maklik om die kaptein te wees wanneer die ouens doen wat jy wil hê hulle moet. Mense bevraagteken ook nie jou kapteinskap as dinge goed gaan nie. Verloor jy, is dit altyd die kaptein en afrigter in die spervuur,” sê hy.

Root het die poging van almal in die Engelse groep geloof. 

“Van die begin van die toer, waar daar siekte en beserings was, en ná die nederlaag in die eerste toets kon dinge baie maklik kwaai skeef geloop het. 

“Ons kon die spoor byster geraak het, maar ons het gewaag met jong spelers en hulle het hand opgesteek. Ek is baie trots op hierdie groep spelers. Dit was ’n ongelooflike vertoning.” 

Meer oor:  Wanderers  |  Joe Root  |  Proteas  |  Engeland  |  Faf Du Plessis  |  Toetskrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.