Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf ‘geskok’ oor Olivier rug keer op toets-glans

Dit is die tydsberekening, meer as enigiets anders, wat Faf du Plessis teleurstel oor Duanne Olivier se besluit om sy rug op Suid-Afrikaanse krieket te keer en ’n Kolpak-kontrak van drie jaar met Yorkshire te sluit.

“Ek is uiteraard baie teleurgesteld. Hy het so lank vir ’n geleentheid gewag om te speel en daardie kans (in die reeks teen Pakistan) toe met albei hande aangegryp,” het Du Plessis gister in Johannesburg gesê.

Duanne Olivier vang Lahira Thirimanne van sy eie boulwerk af uit. Foto: Gallo Images

“As die kaptein kyk jy na die potensiaal van spelers, jy sien die gehalte speler wat hy in die toekoms kan wees. Vernon (Philander) en Dale (Steyn) nader die einde van hul loopbane, hulle het seker nog ’n jaar of twee oor. Maar steeds, Duanne het vir homself ’n kans gegee om onder die voorste drie snelboulers te tel. Die tydsberekening is teleurstellend. Dit herinner my aan Kyle Abbott ’n paar jaar terug.

“Ek wil hê ouens moet die beste wees wat hulle kan wees op internasionale vlak, want dit is die nalatenskap wat jy agterlaat. Ek is teleurgesteld dat hy nie die potensiaal gaan verwesenlik wat ek vir hom sien nie.”

Du Plessis sê die 26-jarige Olivier se beweegredes is soortgelyk aan dié van Abbott ’n paar jaar terug. “Dit is ’n geval van hy wat ’n paar toetse gespeel het (in 2017) en toe weer uit die groep is, want die groot name was terug. Jy kyk na die laaste drie maande en dink, hoe kan hy ’n Kolpak-kontrak teken?

“Maar sy besluitnemingsproses het lank voor dit reeds begin, sonder dat ons geweet het.

“In Engeland het hy langtermyn-werksekerheid en hy kan al drie formate speel. Ek het vir hom gevra hoekom teken hy nie as ’n oorsese speler nie, maar dan speel jy vir 12 maande aanhoudend krieket. As Kolpak-speler speel jy vir ses maande en dan kan jy besluit wat jy met die ander ses maande van die jaar wil doen.”

Morné Morkel, wat verlede jaar ’n Kolpak-kontrak met Surrey gesluit het nadat hy sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig het, het aan Cricket.com.au gesê KSA moet proaktief wees om te verhoed dat ander sterre Kolpak-kontrakte onderteken.

“Hulle moet om ’n tafel sit en met planne vorendag kom, want hulle gaan baie spelers in die afsienbare toekoms verloor.”

“Moet jy jou kontraktering beter struktureer? Watter sekerheid gee jy vir die ouens wat die lewe ná krieket betref?”

Morkel sê toe hy jonger was en gereeld ’n lid van die span was, was dit makliker om goeie aanbiedinge te weier. Vir ouens wat nie gereeld die span haal nie, is dit moeiliker.

Hy glo ook Olivier se tydsberekening is nie goed nie.

Johan van der Wath, nog ’n voormalige Protea-bouler, sê mense moet onthou dat krieket ’n beroep is. Hy het in 2008 ’n Kolpak-kontrak met Northamptonshire gesluit.

“Enige mens sal dit ernstig oorweeg as hy ’n werksaanbod kry wat vir hom werksekerheid en meer geld bied.”

Meer oor:  Faf Du Plessis  |  Duanne Olivier  |  Kolpak-Kontrak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.