Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf, Hashim moet hand opsteek vir SA

Die Proteas se hardebaard-kolwers gaan ’n allerbelangrike rol moet vertolk in die moeilike toestande wat hulle in die komende reeks teen Sri Lanka te wagte kan wees.

Faf du Plessis praat met die media in Galle op die vooraand van die eerste toets teen Sri Lanka. Foto: Reuters

Suid-Afrika en Sri Lanka se krieketspanne is van Donderdag om 06:30 (SA tyd) in Galle in die eerste toets slaags en die besoekers staal hulle vir kolfblaaie wat die tuisspan se gedugte draaiers sal bevoordeel.

Hashim Amla en Faf du Plessis se bydraes met die kolf gaan met die uittrede van die ervare AB de Villiers deurslaggewend in dié reeks wees.

Die probleem vir Suid-Afrika is egter dat nie een van dié twee strydrosse vanjaar al hul beste peil bereik het nie.

Amla het in die sewe toetse vanjaar teen Indië en Australië 399 lopies teen ’n gemiddelde van 28.50 aangeteken. Hy het vier vyftigtalle geslaan.

Du Plessis het op sy beurt 358 lopies in die sewe toetse geslaan teen ’n ewe beskeie gemiddelde van 27.53. Dit het ’n honderdtal en twee vyftigtalle ingesluit.

In die reekse teen Australië en Indië het De Villiers dikwels tot Suid-Afrika se redding gekom in die middelorde.

Sonder hom sal Amla, Du Plessis en die aanvangskolwer Dean Elgar dus ’n bykomende verantwoordelikheid hê om die grondslag vir groot tellings te lê.

Toe die Sri Lankane in die 2016-’17-seisoen in Suid-Afrika gespeel het, is blaaie voorberei wat Suid-Afrika se naatboulers bevoordeel het. Die Sri Lankane het toe al gewaarsku dat die Proteas hulle maar kan vetsmeer vir ’n stowwerige draaiersparadys wanneer hulle weer die eilandnasie besoek.

Sri Lanka is ook terdeë daarvan bewus dat Suid-Afrika se vorige reeks in sulke toestande, in 2016 teen Indië, rampspoedig verloop het.

Die Proteas is toe deurgaans goedkoop uitgeknikker en Indië het ’n reekssege van 3-0 behaal.

Du Plessis het Woensdag die kolfblad in Galle onder oë gehad en bevestig dat dit redelik droog lyk.

“Ons moet dus ’n finale besluit neem of ons sewe kolwers of twee draaiers gaan kies,” het Du Plessis op ’n nuuskonferensie gesê.

Du Plessis het bevestig dat die Proteas met drie naatboulers, waarskynlik Dale Steyn, Vernon Philander en Kagiso Rabada, gaan begin.

As hulle sewe kolwers kies, sal daar net plek vir een draaier (straks Keshav Maharaj) wees. Indien hulle egter ’n kolwer weglaat, sal Tabraiz Shamsi waarskynlik saam met Maharaj sy linkshandige bybreke afstuur.

“Dié toetsreeks gaan waarskynlik deur die kolwers gewen word. Ek dink Sri Lanka is in dieselfde situasie. Hy het goeie draaiboulers en sal glo dat hy 20 paaltjies kan neem. Dit gaan afhang van watter span se kolwers beter vaar,” sê Du Plessis.

Sessies: 06:30 tot 08:30; 09:10 tot 11:10; 11:30 tot 13:30.

TV: SuperSport 2 en GDN.

Meer oor:  Sri Lanka  |  Hashim Amla  |  Proteas  |  Faf Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.