Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf-hulle wys vuur in die IPL-toernooi

Terwyl Ottis Gibson slapelose nagte het oor moontlike beserings aan sy Proteas-sterre in die Indiese Premierliga (IPL), sal die nasionale krieketbreier beslis in sy noppies wees met hoe hulle tans met die kolf en bal in die reeks vaar.

Faf du Plessis, wat gister vir die Chennai Super Kings in die IPL ’n skitter-kolfbeurt van 54 (38 balle) gespeel het.Foto: ap photo

Faf du Plessis, kaptein van die Proteas, het maar in sy tweede wedstryd gister vir die Chennai Super Kings in die skatryk blitsreeks ’n skitter-kolfbeurt van 54 (38 balle) gespeel. Dié beurt het vier sesse en twee viere ingesluit en sy span help aanvuur tot 160/3.

Du Plessis het, soos in die afgelope internasionale reekse teen Pakistan en Sri Lanka, gemaklik voor die penne gelyk en met ’n paar uitstekende houe die bal oor die grens gejaag om te wys dat hy ná ’n klein blaaskans nie met sy kolfpeil van stryk af is nie.

Die Proteas-kaptein het ná sy beurt gesê hy is in sy noppies met die kolfvertoning en dat sy spelpeil vir die nasionale span baie te make het met die selfvertroue waarmee hy tans voor die penne stelling inneem.

Sy vyftigtal het uiteindelik die Super Kings gehelp om die Kings XI Punjab met 22 lopies te klop.

Dis egter nie net Du Plessis wat die lopies laat vloei in die IPL nie. Gibson sal ook tevrede wees met die manier waarop Quinton de Kock en David Miller in die toernooi vertoon. De Kock (20ste) en Miller (21ste) tel albei onder van die voorste lopiemakers.

Miller kon egter nie gister die Kings XI help om met Du Plessis se span af te reken nie. Hy het stelling voor die penne ingeneem met sy span wat nog 54 lopies van 15 balle vir ’n oorwinning gesoek het. Die hotklou-kolwer kon egter slegs ses lopies aanteken voordat hy skoongeboul is.

Die draaier Imran Tahir was ook weer ’n doring in die Kings XI se vlees en het in sy vier boulbeurte slegs 20 lopies afgestaan. Tahir was vroeër die week ook Chennai se boulheld toe hy syfers van 2-23 behaal het in hul sege oor die Rajas­than Royals.

Tahir is saam met sy Suid-Afrikaanse spanmaat Kagiso Rabada, wat vir die Delhi Chargers speel, die naasgrootste paaltjievraat (met agt paaltjies) tot dusver in die kompetisie.

Dit sal Gibson tevrede stel dat sy twee voorste kitsboulers so goed op stryk is.

Die Aussie-swartskaap, David Warner, is tans die voorste lopievraat in die kompetisie en het in vier beurte vir die Sunrisers Hyderabad 264 lopies aangeteken. Dit sluit in ’n onoorwonne 100 lopies teen die Royal Challengers Bangalore, en warrelwindbeurte van 85 (53 balle) en 69 lopies teen Rajasthan. Hy was egter in die stryd teen die Capitals die slagoffer van Rabada wat hom vir 10 lopies uitgehaal het.

Terwyl die uitgetrede Proteas-kolwer AB de Villiers en Indië se inspirerende kaptein, Virat Kohli, kook met die kolf vir die Royal Challengers Bangalore, laat die span se boulwerk veel te wense oor.

Ná vyf wedstryde het die span nog nie gewen nie.

Meer oor:  Ottis Gibson  |  Faf Du Plessis  |  Chennai Super Kings  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.