Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf kom terug, maar gaan hy kaptein wees?

Faf du Plessis gaan terug wees in die Protea-span vir Australië se toer na Suid-Afrika, maar dis nie ’n uitgemaakte saak dat hy steeds die T20-span gaan aanvoer nie.

Die Aussies kom later vandeesmaand in die land aan vir drie T20-wedstryde en drie eendagkragmetings. Krieket Suid-Afrika (KSA) het reeds aangekondig dat Quinton de Kock as voltydse eendagkaptein by Du Plessis oorneem, maar daar is nog nie duidelikheid oor die T20-kapteinskap nie.

Faf du Plessis sal terug in die Protea-span wees om die reekse teen Australië aan te durf. Hy het Suid-Afrika se enigste honderdtal by die WB-toernooi teen die Aussies geslaan. Foto: Gallo Images

Du Plessis hou al lank vol hy sal sy loopbaan ná die T20-Wêreldbeker (T20-WB) in Oktober en November in Australië in heroënskou neem. Kapteinskap is iets wat hom na aan die hart lê, maar nou blyk dit hy kan selfs slegs as ’n speler na die T20-WB reis. Daar word verneem Du Plessis moet nog met Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, vergader oor die T20-kapteinskap.

De Kock is intussen aangewys as die kaptein vir die T20-reeks teen Engeland, wat Woensdag in Oos-Londen begin.

Du Plessis het aanvanklik ná die toetsreeks teen Engeland gesê hy vat ’n blaaskans vir die eendagreeks “om weg te kom van die geraas”.

“Daarna sal ek terugkom vir die T20’s, wat ’n Engelse span op volsterkte teen ’n Suid-Afrikaanse span op volsterkte sal wees,” het Du Plessis gesê.

Toe die T20-groep Saterdag aangekondig is, was daar geen Du Plessis of Kagiso Rabada nie. Die keurders het besluit om Du Plessis en Rabada se blaaskans te verleng, het KSA se verklaring gelui.

Mark Boucher, die Protea-afrigter, het Sondag gesê die plan was nooit dat Du Plessis in die T20-reeks teen die Engelse sou speel nie.

“Faf is steeds een van ons beste T20-spelers, maar ons voel hy het tans ’n bietjie tyd weg van die spel af nodig,” sê Boucher.

“Hierdie ouens (Du Plessis en Rabada) het baie gespeel en baie tyd op reis deurgebring. Ons moet dus enige kans benut om vir hulle ruskans te gee en hulle verfris te kry.

“Veral nou, want daar gaan nou baie krieket wees in die opbou tot die T20-WB. Dit is boonop ’n geleentheid om te sien wat ander ouens kan bied.

“Ek glo darem teen Australië sal hulle uitgerus wees en weer kan kom speel.”

Die eerste T20-kragmeting met Australië vind reeds volgende Vrydag, die 21ste, in Johannesburg plaas.

Du Plessis se spelpeil in sy laaste vyf toetse was swak, maar hy is steeds een van Suid-Afrika se beste kolwers. Veral in die korter weergawes van die spel. In eendagkrieket is sy gemiddeld van 47.47 onder die top-20 met meer as 5 000 internasionale lopies.

Die laaste twee jaar is sy internasionale eendaggemiddeld 65.68.

In internasionale T20-krieket spog hy met ’n gemiddeld van 35.86. Dit is die 13de beste gemiddeld wêreldwyd vir spelers wat al meer as 20 beurte gespeel het. Hy teken sy lopies boonop teen ’n treftempo van 135.48 aan.

Dit is beter as, onder andere, MS Dhoni se internasionale T20-treftempo.

Meer oor:  T20  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Faf Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.