Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf du Plessis lê tuig as kaptein neer

Faf du Plessis het besluit om die tuig as Protea-kaptein in alle formate neer te lê, maar sal minstens tot die T20-Wêreldbeker (T20-WB) later vanjaar in Australië steeds as ’n speler beskikbaar wees.

“Terwyl die span ’n nuwe rigting inslaan met nuwe leiers en jong spelers, voel ek dit is in die beste belang van Suid-Afrikaanse krieket,” sê die 35-jarige Du Plessis in ’n verklaring.

Faf du Plessis het besluit om die tuig as Protea-kaptein in alle formate neer te lê. Foto: Gallo Images

Du Plessis was ná die WB-toernooi verlede jaar in Engeland in die spervuur en sy kop is uit talle oorde geëis. Dít ondanks die feit dat die span reeds gewankel het ná die uittrede van verskeie ervare spelers. Du Plessis se spelpeil was boonop nog goed, buiten sy laaste vyf toetse.

“In ’n ideale wêreld sou ek graag die span vir die res van die seisoen in toetse en die T20-WB wou aanvoer, maar soms is onselfsugtigheid die belangrikste eienskap van ’n leier,” sê Du Plessis.

Hy gaan egter steeds in al drie formate beskikbaar wees as ’n spesialiskolwer.

“Ek is gesond, fiks, vol energie en gemotiveerd en wil beslis ’n belangrike rol vir die span speel solank as wat ek goeie vertonings vir die span lewer. Vir nou bly ek toegewyd in al drie formate van die spel as ’n speler en sal ek my kennis en tyd met die nuwe leiers deel.”

Quinton de Kock is reeds as die nuwe eendagkaptein aangewys en behoort nou dié rol ook in die T20- en selfs toetsspan te vertolk. Du Plessis het sy volle ondersteuning aan De Kock en die afrigter, Mark Boucher, beloof.

Du Plessis het Suid-Afrika in 112 internasionale wedstryde in al drie formate aangevoer sedert hy in Desember 2012 die eerste keer kaptein gemaak is. Sedertdien het hy 5 101 lopies in alle formate as kaptein aangeteken, wat 11 100-talle en 28 50-talle insluit.

Du Plessis was die eerste kaptein om Australië in tuis- en wegreekse in eendag- én toetskrieket te klop.

Hy sê die paar weke weg van die spel ná die toetsreeks teen Engeland het hom perspektief gegee.

“Dit was ’n vervullende, somtyds taai en soms ook eensame pad, maar ek sal die ervaring vir niks verruil nie. Dit is die grootste eer van my lewe om my land se kaptein kon wees,” sê hy.

Dit was ’n vervullende, somtyds taai en soms ook eensame pad, maar ek sal die ervaring vir niks verruil nie. Dit is die grootste eer van my lewe om my land se kaptein kon wees.
Faf du Plessis

“Ná die WB-toernooi in 2019 het ek die besluit geneem om voort te gaan in my rol as kaptein terwyl die span ná die uittrede van senior spelers ’n boufase betree het. Daar het ook ’n nuwe afrigtingspan ingekom. Dit was belangrik vir my om die span sy voete te help vind en ’n nuwe weg vorentoe uit te stippel, terwyl ons die volgende generasie leiers identifiseer.”

Du Plessis sê die laaste seisoen van sy kapteinskap was egter vir hom die moeilikste tot nog toe, want daar was baie kwessies weg van die veld wat sy energie en aandag geëis het.

“Ek het daarna gestreef om die span met waardigheid te lei. Ek het nog nooit die handdoek ingegooi nie en ek glo ek plaas nou die span eerste.”

Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, sê Du Plessis het altyd sy beste vertonings gelewer wanneer die span hom die nodigste gehad het. Sy toets-100-tal in sy buiging in 2012 teen Australië in Adelaide is ’n sprekende voorbeeld.

“Ná die uittrede van Vernon Philander is hy en Dale Steyn die laaste spelers van ’n goue generasie wat Suid-Afrika na die spits van die toetsranglys geneem het. Hy het nog ’n baie belangrike rol om te vervul terwyl ons van een generasie na ’n volgende beweeg,” sê Faul.

“Hy sal steeds baie waarde tot die Proteas toevoeg – op en weg van die veld.”

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Proteas  |  Faf Du Plessis  |  Kapteinskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.