Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf: ‘Ons moet meer leiers by Proteas kweek’
Faf du Plessis sê kapteinskap is ’n groot deel van wie hy as ’n krieketspeler is. Foto: Gallo Images

Faf du Plessis sal dit altyd mis om die Suid-Afrikaanse krieketkaptein te wees, maar nou het hy vir homself ’n nuwe doelwit in die Protea-span gestel – om nuwe leiers te help ontwikkel.

Du Plessis (35) het ná die toetsreeks teen Engeland aan die begin van die jaar afstand van die kapteinskap in alle formate gedoen.

“Natuurlik mis ek dit om die kaptein te wees, dit is ’n groot deel van wie ek is en ek is mal oor kapteinskap. Ek was al kaptein in alle formate sedert ek 13 was,” het Du Plessis vandeesweek gesê.

Ek sal dit altyd mis, maar die tyd was reg om weg te stap.
Faf du Plessis

Hy het Suid-Afrika in 39 eendagwedstryde, 37 T20-wedstryde (die meeste deur ’n Suid-Afrikaner) en 36 toetse aangevoer. Slegs Graeme Smith (108) en Hansie Cronjé (53) was in meer toetse die Protea-kaptein.

“Ek het myself nog altyd as ’n leier gesien. Ek sal dit altyd mis, maar die tyd was reg om weg te stap.

“Nou kan ek help om ander leiers te laat groei. Daar is ’n tekort aan leiers in ons stelsel en dis waar ek nou ’n bydrae kan lewer.

“Dit kan jong spelers help as daar iemand in die span is wat leiding kan gee. Dit gee vir my ’n doelwit vir die volgende jaar.”

Du Plessis het sy tande in spanne geslyp met spelers soos Smith, AB de Villiers, Hashim Amla, Jacques Kallis, Dale Steyn en Morné Morkel langs hom. Daar was nooit ’n tekort aan leiers en ervaring nie, maar skielik is dit in dié afdelings yl gesaai.

Quinton de Kock is Suid-Afrika se nuwe witbalkaptein. Foto: Gallo Images

Quinton de Kock het die kapteinskap in eendag- en T20-krieket oorgeneem en dis nog onduidelik wie die nuwe toetskaptein gaan wees. De Kock se krieketbrein is vlymskerp en sy kolfwerk ly nie onder die kapteinskap nie, maar hy het al self erken daar is aspekte van sy kaptein- en leierskap, veral weg van die veld, wat nog ontwikkel moet word.

Smith, die direkteur van krieket, het reeds gesê De Kock gaan nie met dié toetskapteinskap ook nog opgesaal word nie. Daar is dus geen ooglopende kandidaat vir dié pos nie. Temba Bavuma, Aiden Markram, Dean Elgar of dalk selfs Rassie van der Dussen of Keshav Maharaj as ’n buiteperdkeuse, behoort dus met die toetskapteinskap toevertrou te word.

“Nuwe leierskapsrolle is iets wat aandag moet kry, want dis ’n gebied waarin ons tekortskiet in Suid-Afrikaanse krieket. Ons moet vir jong spelers hulp bied.

“In ons kultuur vra ons nie gereeld om hulp nie, ons maak asof alles onder beheer is. Dit is ’n geleentheid vir ons om te kyk hoe ons dit kan aanpak en hoe ons daardie ouens kan help.

“Daar is nie baie ouens wat al kapteins was nie. Maar dit is ’n kans vir vyf of ses spelers om saam te kom en ’n kultuur te skep wat die span vir die volgende vier of vyf jaar kan dryf. Ek sal graag deel van die proses wil wees.”

Meer oor:  Faf Du Plessis  |  Krieket  |  T20  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.