Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf: ‘Ons moet spelers in land hou’

Hy sien dit as sy plig om die Proteas in hierdie oorgangsfase te lei en die jong spelers te mentor, het Faf du Plessis Dinsdag gesê nadat Suid-Afrika die derde toets teen Indië met ’n beurt en 202 lopies verloor het.

Faf du Plessis, die Protea-kaptein, word skoongeboul. Foto: AP

Die Protea-kaptein sal dus nie op sy swaard val ná die verpletterende reeksnederlaag met 0-3 nie. Hy het wel eerlik gepraat oor probleme in die Suid-Afrikaanse krieketstruktuur, asook foute wat Krieket Suid-Afrika (KSA) die laaste paar jaar gemaak het.

“Dis ’n baie jong span. Ek sien dit as deel van my reis om hierdie span te help met die oorgangsproses,” sê Du Plessis.

“Voorheen het dinge nie só gewerk nie. Graeme Smith was vir ’n lang tyd ’n baie suksesvolle kaptein en daarna was dit ’n geval van wat nou?”

Du Plessis wil nou help om ’n soortgelyke probleem te voorkom vir wanneer hy uittree.

“Ek wil help om die volgende leiers te identifiseer en hulle by te staan. Wanneer die tyd reg is, sal ek uittree. Maar vir eers, ja, ek is die regte man.

“Ons het baie ervaring verloor en die verantwoordelikheid rus nou op my skouers.

“In so ’n herboufase is dit belangrik om spelers met goeie karakters te identifiseer. Dit is in moeilike tye soos hierdie, waar jy daardie karakters vind.

“Jy gaan goeie spelers kry, maar hulle is dalk nie geestelik sterk nie. Vir my gaan dit nou daaroor om ons geestelik sterk te kry.

“Hierdie toer het vir my gewys ons is nie geestelik sterk genoeg nie. Dit is iets wat ons moet regstel.”

Hy sê Indië het Suid-Afrika in elke liewe faset van die spel uitoorlê. Hulle was genadeloos en het Suid-Afrika uitgemergel.

Verkieslik wil jy met ’n nuwe fase begin waar daar net een of twee spelers is wat vervang moet word. Maar nou is daar baie spelers wat op dieselfde tyd uitgetree het, so die proses gaan langer duur.

Nou moet die span homself optel, maar strukture in Suid-Afrikaanse krieket moet ook verander. Die land kan dit ook nie meer bekostig om soveel spelers te verloor wat hul heil liewer in Engeland gaan soek nie. Du Plessis weet egter dít alles gaan tyd neem.

“Verkieslik wil jy met ’n nuwe fase begin waar daar net een of twee spelers is wat vervang moet word,” sê hy.

“Maar nou is daar baie spelers wat op dieselfde tyd uitgetree het, so die proses gaan langer duur.”

Hy sê Brexit sal dalk help om Kolpak-kontrakte in die toekoms te voorkom.

“Maar dalk kry hulle dan ’n ander tipe manier van kontraktering. Die rand sal nooit met die pond kan meeding nie, maar hoe minder sulke tipe kontrakte beskikbaar is, hoe beter is dit vir SA krieket.

“As ons meer spelers in die land kan hou, sal dit ongelooflik baie help. Dis nie net ervare internasionale spelers wat oorsee gaan nie, maar jou beste eersterangse spelers ook.

“Die ouens wat uit die nasionale span gelaat word, gaan oorsee. Dan is jou talentpoel soveel kleiner. Dit is iets wat ons geïdentifiseer het om te stop, maar dit is baie moeilik.”

Dit is hartseer dat Suid-Afrikaanse krieket nie sy beste spelers beskikbaar het nie.

’n Indiese joernalis het die voorbeeld van die draaier Simon Harmer gebruik, wat die laaste drie seisoene skitter as ’n Kolpak-speler vir Essex.

“Dit is hartseer dat Suid-Afrikaanse krieket nie sy beste spelers beskikbaar het nie. Simon Harmer is ’n ongelooflike speler. Dit sou wonderlik gewees het as ons hom kon kies ná sy goeie spel oorsee. Hopelik werk dit ná Brexit so dat spelers steeds in Engeland gaan speel, maar dat ons hulle steeds kan kies.”

Hy betreur ook die feit dat spelers ná hul uittrede liewer oorsee gaan as om in SA te bly en plaaslike krieket te speel.

“Jong spelers sou so baie daarby baat vind. Om saam met Hashim Amla, Dale Steyn en AB de Villiers te speel, sal die beste leerskool wees. Maar jy verloor al daardie ervaring.”

Die huidige krisis is ook te wyte aan sekere strukture in Suid-Afrikaanse krieket wat nie voldoende is nie, sê Du Plessis.

“Daar is ’n groot gaping tussen ons plaaslike en internasionale krieket.

“ ’n Paar jaar gelede moes iemand ook die visie gehad het om ’n plan te maak vir wanneer ’n klomp ouens wat dieselfde ouderdom was, sou uittree.”

De Villiers, Steyn, Amla, Morné Morkel, JP Duminy, Vernon Philander en Du Plessis self is almal ongeveer dieselfde ouderdom.

“Ons is almal ’n bietjie skuldig daaraan. Oor die laaste jaar en ’n half het ons vier of vyf toetsspelers verloor. Nou moet jy al jou beste spelers gelyktydig vervang.”

Meer oor:  Ksa  |  Toetskrieket  |  Proteas  |  Faf Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.