Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boul-tameletjie: Hoe gemaak met Piedt?
Dane Piedt
Dane Piedt in aksie teen Engeland in 2016. Foto: Getty Images

Die groot vraag voor Suid-Afrika se tweede kriekettoets Donderdag in Pune teen Indië begin, is hoe die Proteas se boulaanval gaan lyk.

In die eerste toets in Visakhapatnam, wat Indië met 203 lopies gewen het, het die Protea-draaiers lelik deurgeloop. Veral Dane Piedt het nie veel van ’n invloed gehad nie. Hy was saam met Keshav Maharaj en Senuran Muthusamy een van drie draaiers in die elftal, terwyl Kagiso Rabada en Vernon Philander die enigste naatboulers was.

Faf du Plessis, die Protea-kaptein, het Woensdag gesê hulle gaan kyk na ’n boulaanval wat die beste kans staan om 20 paaltjies plat te trek.

As jy ’n span kies, kyk jy na ouens wat vir jou ’n wedstryd kan wen. Dit is die gesprekke wat ek en Enoch (Nkwe, waarnemende spandirekteur) sal hê.
Faf du Plessis

“As jy ’n span kies, kyk jy na ouens wat vir jou ’n wedstryd kan wen. Dit is die gesprekke wat ek en Enoch (Nkwe, waarnemende spandirekteur) sal hê,” sê Du Plessis.

“Elke blad is natuurlik anders en jy probeer dit in ag neem, maar ons wil kyk wie is die ouens wat ons kan help om 20 paaltjies plat te trek.

“Ons het nie 20 paaltjies in die vorige toets gevat nie en dit is iets wat ons wil regstel in dié toets. Dit is hoe jy toetse wen.

“Ons denkrigting sal dus wees om spelers te kies wat wedstryde kan wen. Ons wil praat oor wat ons mees aggressiewe opsies is.”

Faf du Plessis slyp sy kolfwerk in Pune. Theunis de Bruyn staan agter hom. Foto: Gallo Images

Du Plessis verwag wel die blad sal meer draai toon as in die eerste toets.

Die versoeking sal dus daar wees om weer met die drie draaiers te volhard. As Du Plessis-hulle besluit om liewer drie naatboulers in te span, sal een van Lungi Ngidi of Anrich Nortjé speelkans kry. Piedt kan moontlik dan uitval, met Muthusamy wat danksy sy goeie kolfvertoning in die eerste toets sy plek kan behou.

Dis wel lastig dat Muthusamy en Maharaj dieselfde soort boulers is. Hulle is albei ortodokse linksdraaiers.

As Du Plessis die kolflys wil versterk, kan Zubayr Hamza kans kry. Muthusamy se kolfpeil maak dit egter aanloklik om steeds Hamza vir eers uit te laat om vir nog ’n bouler plek te maak.

Du Plessis wil ook sien dat die Protea-kolwers druk plaas op Indië se twee skitterende draaiers, Ravichandran Ashwin en Ravindra Jadeja.

“Jy kan hulle nie toelaat om die heeltyd sake te dikteer nie. Daar moet ’n goeie balans gevind word tussen verdediging en aanval, jy moet so hier en daar waagstukke aangaan.

“Hulle het uiteraard briljante vertoningslyste in Indië. Jy moet probeer om druk terug op hulle te plaas. Anders gaan hulle die heeldag goeie aflewerings na jou toe boul en een van daardie aflewerings gaan jou uithaal.

Hulle het uiteraard briljante vertoningslyste in Indië. Jy moet probeer om druk terug op hulle te plaas.
Faf du Plessis

“Die wyse waarop Dean (Elgar) en Quinton (de Kock) gespeel het, waar hulle ’n goeie balans tussen verdediging en aanval gevind het, was goed.”

Hy wil ook ’n beter begin sien as wat in die eerste toets die geval was.

“Ons het ’n span vol karakter en ons veg altyd terug, maar vir my is dit belangrik dat ons goed begin en druk op Indië plaas.

“Dit begin by die loot, hopelik kan ek daar die eerste hou plant.”

Het hy sy lotery geoefen, wou een joernalis tong-in-die-kies weet.

“Baie,” skerts Du Plessis.

Die spanne:

Indië (moontlik): Virat Kohli (k), Ajinkya Rahane, Rohit Sharma, Mayank Agarwal, Cheteshwar Pujara, Hanuma Vihari, R Ashwin, Ravindra Jadeja, Wriddhiman Saha (wk), Ishant Sharma, Mohammed Shami. Suid-Afrika (uit): Dean Elgar, Aiden Markram, Theunis de Bruyn, Temba Bavuma, Faf du Plessis (k), Vernon Philander, Keshav Maharaj, Dane Piedt, Kagiso Rabada, Lungi Ngidi. Senuran Muthusamy, Zubayr Hamza, Anrich Nortjé.

Begintyd: 06:00 op SS 2.

Meer oor:  Dane Piedt  |  Faf Du Plesiss  |  Suid-Afrika  |  Indie  |  Krieket  |  Toets  |  Subkontinent  |  Proteas  |  Draaiers  |  Kaptein  |  Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.