Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf spoel mond uit oor KSA-krisis

Faf du Plessis, die nasionale krieketkaptein, het die Suid-Afrikaanse krieketbeamptes versoek om hul fokus weg van die onsmaaklike gebeure van die laaste paar weke te skuif en op die toetsspan te konsentreer wat vir die komende reeks teen Engeland voorberei.

MANCHESTER, ENGLAND - JULY 6 : Faf du Plessis of S
Faf du Plessis. Foto: Getty Images

Du Plessis het Sondag in die Paarl, waar hy die Paarl Rocks tot die eindstryd van die Mzansi-superliga aangevoer het, die eerste keer sy mening gelug oor die gebeure die laaste tyd in Krieket Suid-Afrika (KSA) se wandelgange.

“Vanselfsprekend het daar baie gebeur, maar nou is dit ’n nuwe begin. Daar is nie baie tyd oor voordat die reeks teen die Engelse begin nie en dit is dus nou die tyd om die fokus terug op die span te plaas . . . om seker te maak dat die span al die dinge kry wat nodig is om sukses te behaal,” het Du Plessis gesê.

“Daar was die afgelope twee of drie weke ’n onderbreking, wat dinge reeds laat maak. Dus moet ons in die volgende week seker maak dat sake weer vlot verloop sodat die toetsspan die volle aandag kry.”

Die grootste knelpunte is die samestelling van ’n keurderspaneel om die toetsspan te kies, asook om die ondersteuningspan aan te wys om die instaan-afrigter, Enoch Nkwe, by te staan.

Daar moet ook twee uitnodigingspanne gekies word, wat binnekort in twee opwarmingswedstryde teen die Engelse toerspan moet speel.

’n Verdere probleem is of die aanvangskolwer Aiden Markram, wat sy gewrig in die onlangse reeks in Indië gebreek het, gereed sal wees vir die eerste toets wat op Welwillendheidsdag begin.

Baie min aandag is hieraan gegee aangesien KSA die afgelope twee weke om die verkeerde redes die nuus gehaal het.

Du Plessis wou nie daarby betrokke raak nie, hoewel hy sê die spel moet weer eerste gestel word.

“Dit is nou die tyd om vorentoe te beweeg. Ek glo vas daaraan dat ons verby die snert moet kyk wat agter die skerms gebeur het.”

Du Plessis het aangebied om as buffer tussen die beamptes en spelers op te tree, net solank dit in die belang van die toetsreeks teen Engeland is.

“Die spelers het absoluut niks uit te waai met wat agter die skerms gebeur het nie. Dit is nodig om dit van mekaar te skei en as ek met sommige van hierdie dinge moet handel, dan is dit reg so.

“Soos ek gesê het, dit is ’n bietjie op nr. 99 en dinge het nie gebeur soos dit moet nie, maar nou moet ons sake regstel.”

Oor die aanstelling van Jacques Faul as die tussentydse uitvoerende hoof, het Du Plessis gesê hy is die regte man vir die pos.

“Dit gaan oor ervaring, om die regte mense daar te kry om hierdie fantastiese spel weer op die regte pad te plaas.

“Daar was te veel negatiewe dinge wat die afgelope vier of vyf weke gebeur het. Die fokus moet weer na krieket skuif en om seker te maak dat ons as ’n span kan bou,” het Du Plessis gesê. – cricinfo.com

Meer oor:  Ksa  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Jacques Faul  |  Faf Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.