Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘T20 bedreig internasionale krieket’

T20-glansligas bedreig internasionale krieket, sê die voormalige Protea-kaptein Faf du Plessis.

Faf du Plessis het die laaste paar jaar geskitter vir die Chennai Super Kings in die Indiese Premierliga. Foto: IPL

Du Plessis self word deesdae as ’n “vrye agent” gesien – ’n topspeler wat nie ’n kontrak met sy land se krieketraad het nie, maar liewer sy geld in T20-ligas verdien. Indië, Pakistan, die Wes-Indiese Eilande, Australië, Bangladesj en Sri Lanka het hul eie T20-spogligas, terwyl Engeland ’n nuwe reeks – The Hundred – gaan begin. Suid-Afrika het ook al sy eie Mzansi-superliga aangebied.

Du Plessis het verlede jaar nog ’n nasionale kontrak met Krieket Suid-Afrika (KSA) gehad, maar het nie weer een gekry nie aangesien hy uit toetskrieket getree het.

Die krieketpubliek het fel gereageer toe geen van Suid-Afrika se vrye agente – onder andere Du Plessis, Chris Morris, AB de Villiers en Imran Tahir – vir die komende T20-reeks teen die Wes-Indiese Eilande gekies is nie.

Rapport het die naweek berig die kans bestaan dat Du Plessis nou wel tot die groep gevoeg kan word, mits hy en KSA tot ’n vergelyk oor ’n moontlike bykomende vergoedingspakket kan kom. Soos sake tans staan, sal Du Plessis slegs wedstrydgeld in die Karibiese Eilande verdien indien hy vir die Proteas speel.

Netwerk24 verneem Du Plessis wil ’n tipe T20- of witbalkontrak met KSA sluit. KSA wil egter ’n balans vind en daarteen waak om ’n presedent te skep waar sy beste spelers slegs vir Wêreldbeker-toernooie beskikbaar wil wees.

“As dit ’n keuse word in die toekoms (tussen T20-ligas en internasionale krieket) kan dit ’n groot bedreiging vir internasionale krieket inhou,” het Du Plessis Sondag aan die vooraand van die hervatting van die Pakistanse Superliga (PSL) in Abu Dhabi gesê, berig Reuters.

Du Plessis het verwys na die wyse waarop spelers van die Windies franchisekrieket bo internasionale krieket verkies. Hy glo Suid-Afrikaanse spelers kan ook daardie paadjie stap.

“Oor tien jaar kan krieket dalk baie soos sokker wees, waar jy jou wêreldtoernooie het en tussenin plaaslike ligas. Daar moet ’n manier wees hoe jy met albei kan werk.”

Dit is al bewys dat T20-“huursoldate” ’n internasionale span skietgoed kan gee.

Du Plessis glo juis die Windies is om daardie rede die gunsteling om die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) later vanjaar te wen. Die T20-WB word deur Indië aangebied en kan in Oktober óf daar óf in die Verenigde Arabiese Emirate aangebied word, afhangende van die Covid-19-pandemie.

“Die Windies het baie krag en ervaring. Hulle het al hul spelers teruggebring en hulle die vryheid gegee om te speel.

“Al die ouens wat nie baie internasionale krieket gespeel het nie, sal terug wees. Ouens soos Dwayne Bravo en Andre Russell.”

Meer oor:  T20  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Faf Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.