Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Jacques Faul besef hef aan lê nou voor

Die uitdagings is groot om hierdie krisis die hoof te bied, erken die nuwe waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), Jacques Faul.

Hy het aanvanklik ses maande om die skip, wat reguit op pad is na die rotse, om te draai en na kalm waters te laat vaar.

Jacques Faul, waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Faul, wat ook in 2011 tydelik enkele maande aan die stuur van sake by KSA was, erken die krieketpubliek kan nie kwalik geneem word dat hulle hierdie organisasie wantrou nie.

“Ons gaan ’n behoorlike struktuur nodig hê en dit gaan ook nodig wees om baie nou met ons borge saam te werk,” sê hy.

Volgens Faul gaan die prioriteit wees om nou eers ’n direkteur van krieket aan te stel wat dan sy aandag kan gee aan die spel en om dinge gereed te kry vir die Engelse toer, wat reeds op die voorstoep staan.

Die eertydse nasionale kaptein, Graeme Smith, is veronderstel om teen Woensdag sy handtekening op die kontrak te plaas vir dié pos.

Faul sê hy is na aan Smith en hulle kom goed oor die weg. “Hy het goeie krieketvaardighede en ek glo hy sal kan aanpas as administrateur, al het hy nie enige vorige ervaring daarvan nie. Ons sal beslis as ’n span kan saamwerk,” sê hy.

Ons gaan ’n behoorlike struktuur nodig hê en dit gaan ook nodig wees om baie nou met ons borge saam te werk.
Jacques Faul

Smith het juis volgens die voorsitter van KSA, Chris Nenzani, gesê hy het nie enige vertroue in Thabang Moroe, wat Vrydag geskors is, gehad nie.

Verder het Smith, wat reeds op 1 Oktober met sy werksaamhede as direkteur van krieket sou begin het, gesê hy vertrou nie die werkinge van KSA nie. Hy was volgens Nenzani van mening dat hy nie genoeg ruimte gegee sou word om sy werk te doen nie.

“Ek het na Kaapstad gereis en daar by sy huis met hom gaan praat. Ons het deur al die probleme gewerk,” sê Nenzani, wat vir Moroe en een van die raadslede wat intussen bedank het, prof. Shirley Zinn, by hom gehad het.

Faul sê as Smith wel nou sy kontrak teken, sal hy dadelik inval by KSA en sal dit sy taak wees om die afrigtingspan aan te wys vir die Engelse toer, asook die nuwe keurkomitee.

Hy glo egter die wisselwerking tussen hom en Smith, asook sy regterhand en raadgewer, Dave Richardson, sal goed wees.

Volgens Faul sal KSA nou op ’n etiese manier moet optree om vertroue op alle vlakke te herstel.

Ek wil eers uitvind hoekom hulle nie wil aangaan met hul borgskap nie. Daar het baie dinge die afgelope week in SA krieket gebeur en ons moet daardie krisis uitsorteer.
Jacques Faul

Dit gaan ook vir hom ’n prioriteit wees om Standard Bank te probeer oortuig om sy besluit te herroep om sy aansienlike borgskap te beëindig.

“Ek wil eers uitvind hoekom hulle nie wil aangaan met hul borgskap nie. Daar het baie dinge die afgelope week in SA krieket gebeur en ons moet daardie krisis uitsorteer,” sê hy.

Nenzani sê die raad sal wel aanbly en dat daar dringend gewerk sal word om KSA se verhouding met die Spelersvereniging (Saca) te herstel.

“Sonder ons spelers sal daar nie ’n KSA wees nie. Hulle is ons grootste bate,” erken Nenzani.

Hy glo al die probleme in KSA die afgelope paar weke kan opgelos word. Ons moet eenvoudig die dinge omkeer en ek verstaan die ongelukkigheid en kommer by die publiek.

“Tog is daar ’n ideale wêreld en dan ’n regte wêreld en ons moet realisties wees. Daar moenie uit die oog verloor word dat krieket ’n nasionale bate is nie,” sê hy.

Meer oor:  Ksa  |  Chris Nenzani  |  Krieket Suid-Afrika  |  Jacques Faul  |  Dave Richardson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.