Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faul verstaan frustrasies oor kwotas

Jacques Faul sê hy verstaan heeltemal waarom franchise-afrigters gefrustreerd raak met Krieket Suid-Afrika (KSA) se transformasieteikens.

Ashwell Prince hou sy Cobra-spelers dop tydens ’n oefensessie. Foto: Gallo Images

Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, sê egter hy kan nie alleen ’n besluit neem oor moontlike veranderinge wat die teikens betref nie.

’n Storm in die kleine het verlede jaar oor die transformasiebeleid gewoed toe die Cape Cobras nie die teiken gehaal het vir ’n meerdagwedstryd teen die Warriors nie. Volgens KSA se teikens op franchisevlak moet elke span ses spelers van kleur inspan, waarvan drie etnies swart moet wees.

In daardie wedstryd het die Cobras slegs twee etnies swart spelers ingespan, maar wel altesaam sewe spelers van kleur gekies. Dit het ’n debat ontketen, met sekere waarnemers wat voel die teikens moet ook, soos by die Proteas, met ’n gemiddeld oor ’n seisoen beoordeel word en nie wedstryd vir wedstryd afgedwing word nie.

Jy moet respek hê daarvoor dat afrigters wil wen. Maar KSA is verbind tot transformasie.

Faul sê verskeie opsies word bespreek.

“Die transformasiekomitee kyk deurentyd hierna. Ons het elke jaar ’n afrigterskonferensie en daar sal ons dit bespreek,” het Faul vandeesweek op ’n elektroniese nuuskonferensie gesê.

“Jy moet respek hê daarvoor dat afrigters wil wen. Maar KSA is verbind tot transformasie. Ons het sekere reëls en riglyne gemaak.”

Hy sê hulle moet wel deurentyd vra hoe toepaslik (dié reëls en riglyne) is en hoe dit verbeter kan word.

“Dit is ’n goeie debat. Jy kyk uit verskillende hoeke daarna. Daar is ’n verantwoordelikheid om geleenthede te skep, maar as ek in ’n kompetisie is en ek is ’n afrigter wat onder druk is, maak dit soms minder sin.”

Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof. Foto: Gallo Images

Dit is goed om terugvoering van die franchise-afrigters te kry, sê Faul.

“Ons is bereid om na almal te luister. Baie hiervan spruit uit die frustrasie van afrigters. Daar is ’n saak te maak om suiwer op verdienste te kies, maar daar is ook ’n sterk saak te maak vir teikens. KSA het nog altyd gesê ons moedig dit aan en dis iets waarop ons trots moet wees.”

Soos al die nasionale sportbeheerliggame word KSA se vordering met transformasie deur die Eminent Persons Group (EPG) gemonitor. Dié groep stel verslae op wat aan die regering voorgelê word, wat wys hoe elke sportsoort met transformasie vaar.

“Ons het steeds die EPG-teikens waaraan ons moet voldoen. Dit is ’n ooreenkoms wat ons met die minister van sport het, dat ons sekere teikens sal bereik.”

KSA kan dus nie net self besluit hy skaf sy teikens byvoorbeeld af nie.

“Ek kan nie nou sê ja, die teikens gaan styg of daal nie. Die transformasiekomitee sal ’n aanbeveling aan die krieketkomitee maak, wat ’n aanbeveling aan die raad sal maak, wat op sy beurt dit na die lederaad sal vat,” verduidelik Faul.

“Dan sal ons verder op regeringsvlak moet praat, wat die EPG-teikens betref. Dis nie iets waaroor ek of Graeme Smith (direkteur van krieket) of Max Jordaan (KSA se transformasiebestuurder) gou ’n bedryfsbesluit kan neem nie. Dit is ’n sensitiewe saak en dit verg nadenking.”

KSA kan wel besluit om die franchises se syfers ook soos die Proteas s’n oor ’n seisoen uit te werk, eerder as wedstryd vir wedstryd.

“Dit is ’n opsie,” erken Faul.

“Maar daar is ’n rede waarom die teikens in plek is en waarom dit op ’n wedstryd-vir-wedstryd-grondslag toegepas word. Daar is wetenskaplike data wat gebruik word om transformasie te monitor. Enige besluit wat geneem word, sal transformasie moet bevorder. Die vraag moet gevra word: Skep dit geleenthede?”

Faul sê transformasieteikens word op ’n baie spesifieke manier gemonitor.

“Daar is selfs data oor hoeveel aflewerings (deur swart spelers) getrotseer word om die gehalte te monitor van die geleenthede wat spelers kry.”

Meer oor:  Krieket  |  Ksa  |  Transformasie  |  Jacques Faul  |  Kwotas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.