Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Fikse Philander veroorsaak tameletjie
Vernon Philander sal sterk oorweeg word om op sy tuisveld die Pakistanse kolwers te treiter. Foto: Gallo Images

Die Proteas se plan om Pakistan met vier naatboulers te trotseer in die tweede kriekettoets het straks skipbreuk gelei toe hulle Dinsdag vir hul oefening op Nuweland opgedaag het.

Die kolfblad het twee dae voor die begin van die tweede toets “dowwerig” gelyk in die woorde van die blitsbouler Kagiso Rabada.

Die keurders sit met ’n tameletjie nadat die naatbouler Vernon Philander van ’n vingerbesering herstel het. Die man wat in sy plek gespeel het, Duanne Olivier, was die Speler van die Wedstryd in die eerste toets. Ná sy 11/96 in Centurion gaan hy moeilik weggelaat word.

Dit is egter net so moeilik om Philander nie te kies vir ’n toets op Nuweland nie. Die naatbouler het tot dusver in sy loopbaan 49 paaltjies in nege toetse geneem teen ’n gemiddelde van 16.55.

Philander is onder die boulers by verre ook die beste kolwer. Sy vermoë om die wilgerlat te swaai sal beslis help om die Suid-Afrikaners se brose kolflys te stu.

Philander is onder die boulers by verre ook die beste kolwer. Sy vermoë om die wilgerlat te swaai sal beslis help om die Suid-Afrikaners se brose kolflys te stu.

Daar is ná die eerste toets aanvaar dat die keurders sou verkies om die draaibalbouler Keshav Maharaj weg te laat en die besoekers met ’n naataanval te pak. Maharaj het in die eerste toets net 14 boulbeurte afgestuur. Daar is geglo Pakistan sou nie lank genoeg teen die Proteas se naataanval oorleef om ’n draaibalbouler nodig te hê nie.

Dit was egter voordat hulle die “dowwerige” kolfblad gesien het.

Nuweland is bekend daarvoor dat dit baie gunstig vir die kolwers kan word as die warm son daarop bak.

Engeland het drie jaar gelede 629/6 aangeteken op Nuweland met Ben Stokes (258) en Jonny Bairstow (150*) wat die boulers geslag het. As die kolfblad weer só gunstig vir die kolwers is, is ’n draaibalbouler ’n moet.

Die vraag is egter wie gaan dan weggelaat word.

Duanne OlivierFoto: Gallo Images

Die Proteas het gewoonlik ’n reël dat ’n speler nie sy plek in die beginspan weens ’n besering kan verloor nie. Dit sal beteken dat Olivier plek sal moet maak vir Philander.

Olivier het in die eerste toets egter so ’n groot impak gehad dat dit bitter moeilik sal wees om hom weg te laat.

Daar is natuurlik die opsie om vir Dale Steyn te rus en hom dan weer vuur en vlam te hê vir die derde toets op die Wanderers in Johannesburg. Steyn is op 35 nie meer die jongste bouler nie en dit kan moeilik wees om drie toetse in drie weke te speel.

Steyn het in die eerste toets Suid-Afrika se grootste paaltjievraat nóg in toetskrieket geword. Hy het regtig goed gelyk in die laaste paar maande tydens die eendagreeks in Australië en in die Mzansi-superliga vir die Cape Town Blitz.

Die laaste opsie is om straks een van die kolwers weg te laat en met vyf spesialisboulers te speel. Dit is egter moeilik om dit te oorweeg as ’n mens die gesukkel van die Proteas se kolwers in ag neem.

Dit gaan beslis nie ’n maklike keuse vir die Proteas se breintrust wees nie.

Meer oor:  Vernon Philander  |  Duanne Olivier  |  Pakistan  |  Kaapstad  |  Boulers  |  Nuweland  |  Toets  |  Krieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.