Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Fluitjieblaser gaan Thami straks dagvaar
Thami Tsolekile is vir 12 jaar uit krieket geskors. Foto: Gallo Images

“Leuens” oor Vaughn van Jaarsveld, wat Thami Tsolekile Dinsdagaand op die aanbieder Robert Marawa se radioprogram vertel het, het Van Jaarsveld genoop om te onthul dat hy die fluitjieblaser van plaaslike krieket se knoeiskandaal in 2015 was.

Tsolekile, wat vir 12 jaar uit krieket geskors is vir sy aandeel in dié skandaal, loop nou ook die gevaar om vir laster gedagvaar te word nadat hy Van Jaarsveld en Robbie Frylinck daarin geïmpliseer het.

Tsolekile, Gulam Bodi, Jean Symes, Pumi Matshikwe, Ethy Mbhalati, Lonwabo Tsotsobe en Alviro Petersen is almal destyds vir hul betrokkenheid in die knoeiskandaal geskors. Bodi is ook strafregtelik vervolg en in 2019 vyf jaar tronkstraf opgelê.

Tsolekile het Dinsdagaand gesê “baie ander spelers wat tans nog aktief speel”, was ook by die skandaal betrokke. Hy meen slegs swart spelers is geteiken in die ondersoek wat Krieket Suid-Afrika (KSA) se teenkorrupsie-eenheid gedoen het. Oudregter Bernard Ngoepe het die ondersoek gelei.

“Die eerste ou wat deur Bodi genader is, was Vaughn van Jaarsveld. Hy het dit nooit bekend gemaak dat hy genader is nie. Eers toe die ondersoekbeamptes hom gevra het, het hy gesê hy was genader, maar David Becker (onafhanklike ondersoeker) en Louis Cole (KSA se teenkorrupsie-hoof) het hom verdedig omdat hy ’n wit speler is,” het Tsolekile aan Marawa gesê.

Vaughn van Jaarsveld was die fluitjieblaser van die knoeiskandaal van 2015. Foto: Gallo Images

Van Jaarsveld het Donderdag aan Netwerk24 gesê dié aantygings is vals. Verskeie ander bronne het ook aan Netwerk24 bevestig dat Van Jaarsveld die fluitjieblaser was wat dié skandaal oopgevlek het.

“Ek is op ’n Saterdagaand tydens ’n T20-Afrikabeker-wedstryd in Potchefstroom deur Bodi genader en het dit die Maandag aan die SA Krieketspelersvereniging (Saca) gerapporteer,” sê Van Jaarsveld.

Saca se Andrew Breetzke, wat nou hul uitvoerende hoof is, het Van Jaarsveld onmiddellik met Cole in verbinding geplaas.

“En sedertdien was die laaste vyf jaar loutere hel,” bieg Van Jaarsveld, wat regsaksie teen Tsolekile oorweeg.

“Toe ek gehoor het wat hy sê, was ek woedend. Ek is in konstante kontak met Saca en KSA oor die weg vorentoe. Ek gaan dié keer nie stilbly nie. Ek wil nou my naam skoonkry.”

Ek gaan dié keer nie stilbly nie. Ek wil nou my naam skoonkry.
Vaughn van Jaarsveld

Sy vrou, Carlynne, sê die laaste vyf jaar was ’n uiters moeilike tydperk vir hul gesin. Sy meen Van Jaarsveld se loopbaan het ook onder die uitgerekte ondersoek gely.

“Dit was nie ’n maklike pad vir ons nie. Ons het drie klein seuns en ons moes van huis tot huis trek, omdat ons agtervolg is. Ons moes die skool laat weet niemand mag ons seuns kom haal nie, maar ons mag nie gesê het waarom nie, want niemand mag geweet wat aangaan nie,” sê Carlynne.

“Ons moes mense aanstel om na die seuns by die krieket te kyk, omdat ons so bang was. En nou sien jy op sosiale media sê mense Vaughn is by wedstrydknoeiery betrokke. Nou moet ons bevestig Vaughn is die fluitjieblaser, terwyl ons eintlik sy identiteit wou beskerm.”

Sy sê Van Jaarsveld moet vereer word vir wat hy gedoen het.

Frylinck het nie op verskeie boodskappe gereageer of oproepe beantwoord nie, maar Netwerk24 verneem ook hy kan ’n lastersaak teen Tsolekile oorweeg.

Tsolekile het ook in sy onderhoud gesê Saca het hom nooit bygestaan nie en dat die saak nie regverdig ondersoek is nie.

Hy beweer dat Saca hom aangeraai het om die klagte teen hom te aanvaar, maar Breetzke het by navraag gesê Saca het niks met die ondersoek te doen gehad nie.

Jacques Faul, die waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

“Saca se enigste bydrae was om die spelers met hul regskoste te help. KSA se teenkorrupsie-eenheid het die saak ondersoek.”

Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, het gesê daar word Donderdagaand ’n vergadering oor die aangeleentheid gehou en dat daar moontlik later ’n verklaring uitgereik sal word.

’n KSA-woordvoerder het by navraag gesê die saak is deur die teenkorrupsie-eenheid hanteer, wat opgetree het volgens die gedragskode van die Internasionale Krieketraad.

Nie Cole of Becker wou by navraag kommentaar lewer nie.

Marawa het gesê dat hy volgende week sy ganse program aan Tsolekile sal afstaan, sodat dié voormalige paaltjiewagter kan praat oor rassisme en diskriminasie wat hy in sy speeldae ervaar het.

Verskeie swart oudspelers het hulle teen rassisme en diskriminasie binne die sport uitgespreek sedert die Black Lives Matter (BLM)-beweging in Suid-Afrikaanse krieket momentum begin kry het.

Marawa se volledige onderhoud met Tsolekile:

Meer oor:  Thami Tsolekile  |  Vaughn Van Jaarsveld  |  Jacques Faul  |  Johannesburg  |  Dagvaar  |  Fluitjieblaser  |  Krieket  |  Ksa  |  Onderhoud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.