Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Francois Pienaar dalk op KSA-raad?

Die naam van Francois Pienaar kan opduik as ’n voorstel Woensdag aanvaar word om Krieket Suid-Afrika (KSA) se raad te wysig met ’n tussentydse een tot en met Desember se jaarvergadering.

Francois PienaarFoto: Gallo Images

Die name van Pienaar, 'n voormalige Springbok-kaptein, Kimi Makwethu en Vusi Pikoli word genoem as moontlike raadslede.

Die lederaadslede in die raad kan volgens die moontlike voorstel na hul provinsies herroep word, terwyl twee mense van buite betrek kan word.

KSA poog om sy huis in orde kry nadat Nathi Mthethwa, minister van sport, hom ingelig het dat hy van plan is om by die beheerliggaam in te gryp. Hy het KSA tot 27 Oktober gegee om ’n geskrewe voorlegging te doen oor waarom hy dit nie moet doen nie.

Mthethwa het die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) ook vroeër gevra om KSA met sy probleme te help.

Saskok sit egter met probleme van sy eie voor sy verkiesing op 7 November, soos die parlementêre portefeuljekomitee vir sport Dinsdag gehoor het.

Saskok moes die portefeuljekomitee inlig oor die vordering wat gemaak is ter voorbereiding vir sy jaarvergadering, die arbitrasieproses van die waarnemende president Barry Hendricks en die besluite (resolusie) wat die Saskok-raad oor KSA geneem het.

Dié verrigtinge is kortgeknip voor enige breedvoerige besprekings oor KSA kon plaasvind. Maar die vonke het behoorlik gespat in die bespreking oor Saskok se interne probleme, en dit was duidelik dat daar groot tweespalt tussen Hendricks en die res van die raad is.

Hendricks het homself in 'n stadium die argwaan van sy mede-raadslede op die hals gehaal toe hy een van hulle, Kaya Majeke, as wisselvallig beskryf het. Hy moes die uitspraak terugtrek.

Nog ’n raadslid, Cecilia Molokwane, het uitgevaar omdat Hendricks na hul raad as “hierdie raad” plaas van “ons raad” verwys het.

Hendricks, wat bevestig het dat hy verkiesbaar is vir die posisie van president in November se verkiesing, het gesê dit is vir hom duidelik dat die raad enigiets sal doen om hom uit te skop, “maak nie saak wat dit kos nie.”

Hy het ook gesê hy wil graag hê die portefeuljekomitee moet hoor wat al die lede van Saskok se algemene vergadering (die presidente van die land se sportfederasies) te sê het oor wat tans in Saskok aangaan, en nie net wat die Saskok-raadslede dink nie, aangesien die algemene vergadering die Olimpiese liggaam se hoogste gesag is.

Die meerderheid van die land se federasies het vroeër gestem vir die opskorting van sy dissiplinêre proses en onmiddellike terugkeer as waarnemende president van Saskok. Die Internasionale Olimpiese Komitee en Paralimpiese Komitee het die raadslede verlede week gevra om by dié besluit te berus.

Aleck Skhosana, wat waargeneem het as president terwyl Hendricks geskors was en nou die waarnemende visepresident is, was een van twee sprekers wat Dinsdag gesê het hulle sal nie ’n probleem daarmee sal hê as Saskok onder administrasie geplaas word nie, “as dit die beste vir die beheerliggaam is”.

Willem Faber van die DA, het die besluit gesekondeer dat daar weer volgende Dinsdag vergader moet word, met Mthethwa teenwoordig.

Hy het ook gesê dis duidelik Saskok kan nie sy probleme self uitstryk nie. Hy het gevra dat ’n opname van Dinsdag se vergadering aan Mthethwa gestuur moet word.

Saskok moet oor ’n week weer voor die portefeuljekomitee verskyn oor die probleme in sy eie geledere.

Van die politieke partye het gevra dat Mthethwa, wat Dinsdag glo by ’n ander vergadering was, die portefeuljesitting die keer móét bywoon.

Meer oor:  Krieket  |  Francois Pienaar  |  Ksa  |  Krieket Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.