Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA-hoës drink kredietkaarte leeg
Thabang Moroe (tweede van links) in 2019 by die KSA-toekenningsaand by die Sun Arena in Pretoria. Foto: Gallo Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) het vasgeskop daarteen om R2,7 miljoen aan sy spelers vir hul beeldregte te betaal, maar het geen probleem daarmee gehad om honderdduisende rande se alkohol op maatskappykredietkaarte te koop nie.

Die Fundudzi- forensiese ouditeurs het in hul ondersoek na KSA bevind 50 KSA-personeellede het tussen 2016 en 2019 maatskappykredietkaarte ontvang. KSA het nie ’n kredietkaartbeleid gehad nie, maar personeel se departementshoofde moes afteken op enige kredietkaartuitgawes.

Minstens R298 539,44 se drank is tussen 19 Augustus 2016 en 23 Junie 2018 met KSA se kredietkaarte gekoop. Dít sluit slegs “buitensporige transaksies” in, wat by “werksfunksies” aangegaan is.

Deel van die gesamentlike bedrag, is verskeie opvallende eenmalige betalings. Die grootste daarvan is ’n rekening van R47 000 by Saint Champagne Bar in Kaapstad op 17 November 2018. Naasei Appiah, wat intussen as bedryfshoof afgedank is, het die rekening met sy kredietkaart betaal.

Daar is geen verduideliking vir die uitgawe nie, maar dit was moontlik by ’n partytjie om die eerste Mzansi-superliga-wedstryd te vier.

Die eerste MSL-kragmeting is op 16 November 2018 tussen die Cape Town Blitz en Tshwane Spartans op Nuweland beslis.

’n Week later het Thabang Moroe, wat later as die uitvoerende hoof afgedank is, ’n rekening van R27 000 by Cubana in Port Elizabeth betaal vir ’n “MSL-spanpartytjie”.

Dit was ’n dag nadat die Nelson Mandela Bay Giants die Durban Heat in die Baai gepak het.

Op 8 Desember het Moroe R28 000 by die Kaapse restaurant Coco uitgegee. Die Blitz en Paarl Rocks het op 7 Desember ’n wedstryd in Kaapstad gespeel.

Moroe het Coco klaarblyklik baie geniet – op 17 Desember (’n dag ná die eindstryd op Nuweland) het hy nóg R28 000 daar uitgegee. Maar Moroe was nog nie klaar met Coco nie.

Die bogenoemde bedrag van R298 539,44 sluit nie die R50 000 se drank in wat op 6 Januarie 2019 – ’n dag ná Moroe se verjaardag – met KSA-kredietkaarte by Coco gekoop is nie.

kredietkaart
Uittreksels uit die volle Fundudzi-verslag wys hoe hooggeplaastes hul KSA-kredietkaarte kwistig ingespan het.
KSA

Fundudzi meen bewerings dat Moroe ’n verjaardagpartytjie met KSA-kredietkaarte befonds het, kan waar wees.

Fundudzi het bevind dat Moroe, wat ’n maandelikse kredietkaartlimiet van R100 000 gehad het, tussen Augustus 2017 en September 2019 “uitgawes wat buitensporig voorkom” ter waarde van R169 000 op sy maatskappykredietkaart aangegaan het. Dit sluit transaksies in wat verband hou met “vermaak, kantoorverversings, kantoordekoritems en verskeie MSL-spanpartytjies”.

Onder Moroe se kredietkaartuitgawes – en nóg ’n transaksie wat nie by die R298 539,44 ingesluit is nie – is ’n bedrag van R27 997,78 wat op 12 Julie 2019 by die Kimpton Fitzroy in Londen uitgegee is. Dit was twee dae voor die Wêreldbekereindstryd in Londen. Daar is geen verduideliking vir die uitgawe ingedien nie, maar dit sluit volgens strokies huisvesting en kos in.

KSA-werknemers het tussen 31 Augustus 2015 en 9 Desember 2017 meer as R307 723 se IT-toerusting met maatskappykaarte by winkels soos Incredible Connec­tion en iStore gekoop.

Ons was ’n groeiende maatskappy en mense het kredietkaarte nodig gehad.

Volgens Fundudzi sê KSA IT-toerusting moet soms aanlyn aangekoop word en daarom word kredietkaarte soms gebruik.

KSA-werknemers het ook tussen 5 September 2015 en 19 Oktober 2019 meer as R207 000 se klere by New Balance met hul kredietkaarte gekoop.

Geskenke, blomme en kruideniersware is ook gereeld met die kaarte gekoop.

Appiah het aan Rapport gesê: “Ons was ’n groeiende maatskappy en mense het kredietkaarte nodig gehad.”

Welsh Gwaza, die maatskappysekretaris, het aan Fundudzi gesê KSA het in 2020 ’n voorgestelde kredietkaartbeleid opgestel. Dit is onduidelik of dit al goedgekeur is.

Nadat Jacques Faul in Desember 2019 by Moroe oorgeneem het as (waarnemende) uitvoerende hoof, het KSA se kredietkaartrekening met 36% afgeneem. Faul het in Augustus uit sy amp bedank omdat hy gemeen het sy gesag word ondermyn.

Meer oor:  Ksa  |  Fundudzi-Verslag  |  Uitgawes  |  Thabang Moroe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.