Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Verslag verbind ANC-man met KSA

Die volledige Fundudzi- forensiese verslag oor bestuurspraktyke by Krieket Suid-Afrika (KSA) betrek ’n ANC-lid by moontlik verdagte transaksies met dié beheerliggaam.

Unathi Tshotwana en sy vrou, Candice, op hul troudag. Foto: Twitter | Top Billing

KSA se tussentydse raad het Woensdag besluit om dié veelbesproke verslag in sy geheel aan die publiek bekend te maak nadat die beheerliggaam se vorige regime verbete gepoog het om die volledige inhoud dig te hou.

Die vorige raad het wel in Oktober ’n opsomming van die verslag bekend gemaak, wat ’n storie van erge finansiële wanbesteding onder die leierskap van die vorige uitvoerende hoof, Thabang Moroe, vertel het.

Fundudzi stel in een van sy bevindings voor dat ’n strafregtelike klag van korrupsie rakende onderhandelings tussen Moroe en Naasei Appiah (KSA se vorige bedryfshoof) en ’n maatskappy, wat in die opgesomde verslag slegs as “Diensverskaffer X” bekend gestaan het, aanhangig gemaak word.

In die volledige verslag word “Diensverskaffer X” se naam genoem – die ANC-lid Unathi Tshotwana se maatskappy, Tinanati Management and Consulting. Dié maatskappy se naam is aanvanklik weens die moontlikheid van toekomstige regstappe weerhou, maar die tussentydse raad sê hoewel hy van die gevare bewus is, glo hy dit is oorweldigend in die openbare belang om die verslag nou in sy geheel bekend te maak.

Volgens die verslag het Moroe en Appiah glo gesorg dat R3 490 036,92 in retensiegeld aan Tinanati betaal word, maar daar is nie enige bewyse dat dié maatskappy enige teenprestasie daarvoor gelewer het nie. Appiah het glo die ooreenkoms met dié diensverskaffer onderteken, maar die nodige verkrygingsprosedures is glo nie gevolg nie.

Tinanati was veronderstel om KSA van inkomste-ooreenkomste te voorsien, waaruit KSA glo tweejaarliks ’n voordeel van R30 miljoen sou trek. Tinanati moes volgens die verslag “verhoudinge tussen KSA en die nasionale en plaaslike regering ontwikkel en bestuur, met die mikpunt om inkomste-ooreenkomste daar te stel”.

Fundudzi skryf: “Daar is geen bewyse dat Tinanati inkomste-ooreenkomste aan KSA voorsien het, soos in die kontrak vervat is nie.”

Benewens optrede teen Moroe en die moontlike strafregtelike klag, beveel Fundudzi aan dat regstappe teen Tinanati gedoen word om die geld wat aan hom betaal is, te verhaal aangesien daar geen bewyse is dat dienste gelewer is nie.

Tshotwana se spogtroue is in 2016 deur Top Billing uitgesaai. Verskeie ANC-hoës was teenwoordig.

Faith Muthambi, voormalige minister van kommunikasie, Tandi Mahambehlala, ANC-parlementslid, en Zizi Kodwa, die adjunkminister van staatsveiligheid, was almal daar en het met Top Billing oor die swierige troue gepraat.

Kodwa se naam het Woensdag by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping opgeduik. Hy het glo verdagte betalings van ’n IT-maatskappy, EOH, ontvang.

Tshotwana het Dinsdag by navraag gesê: “Ek kan nie nou kommentaar lewer nie, want hierdie saak gaan in die howe draai en is dus sub judice.”

Volgens die forensiese verslag het Tshotwana aan Fundudzi gesê Moroe en Appiah het hom genader. Hy het glo ook gesê hy het wél ’n teenprestasie gelewer.

Judith February, die woordvoerder van die tussentydse raad, het aan Netwerk24 bevestig hulle het nog geen strafregtelike klagte aanhangig gemaak nie.

Oudregter Zak Yacoob, die voorsitter van KSA se tussentydse raad. Foto: Nelius Rademan

“Ons kry nuwe prokureurs om ons te help met Fundudzi, want nie al die vrae wat ons gehad het, is deur Fundudzi beantwoord nie,” sê February, self ’n prokureur en bestuurskenner.

“Dit kan as ’n raamwerk gebruik word, maar ons het ’n vars regsoog nodig. Dit sal vir ons ’n prentjie gee van watter aksie ons teen wie moet neem en hoe ons dit moet doen.

“Intussen het ons die verslag bekend gemaak omdat ons nie voel daar hoef soveel geheimhouding te wees nie.”

KSA het Woensdag in ’n verklaring gesê alle belanghebbendes het ’n regverdige kans gekry om hul menings uit te spreek oor die besluit om die verslag bekend te maak.

“Daar sal ook geen stappe gedoen word teen enigiemand wat in die verslag geïmpliseer is sonder ’n volledige ondersoek, regverdige prosedures en die geleentheid vir almal om gehoor te word nie,” lui die verklaring.

“Ons vertrou almal vind dít aanvaarbaar en dat ons steeds almal se ondersteuning sal geniet,” sê Zak Yacoob, die voorsitter van die tussentydse raad.

Meer oor:  Ksa  |  Fundudzi-Verslag  |  Thabang Moroe  |  Krieket Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.