Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Gaar’ Smith sien uit na blaaskans

Die Australiese lopiemasjien Steve Smith het homself as “gaar” beskryf nadat sy breë kolf die laaste paar maande toegesien het dat die As saam met sy span na Australië sal terugkeer.

Steve Smith en sy spanmaats keer met die As terug na Australië. Foto: Getty Images

Australië en Engeland het met 2-2 gelykop gespeel in hul pas afgelope reeks, maar omdat die Aussies die vorige reeks tussen dié spanne gewen het, bly die As in hul besit.

Die manne van Doer Onder is egter baie aan Smith verskuldig, wat soos ’n wafferse Don Bradman onder die Engelse boulers ingeklim het.

Hy het ’n verstommende 774 lopies in sewe kolfbeurte opgestapel, teen ’n gemiddelde van meer as 110.

Marnus Labuschagne, die Aussies se Suid-Afrikaans gebore kolwer, het 353 lopies aangeteken en Matthew Wade 337.

Buiten dié drietal, kon nie een Aussie-topkolwer meer as 200 lopies in die reeks versamel nie.

“Ek het my alles gegee terwyl ek die afgelope vier en ’n half maande hier was, maar vandag het ek nie veel oor in die tenk gehad nie,” het Smith Sondag by die Oval in Londen gesê nadat Australië en Engeland die eerste keer sedert 1972 die louere in ’n toetsreeks gedeel het.

“Ek was sielkundig en fisiek gaar en sien nou daarna uit om vir ’n klompie weke te rus, voordat ons begin voorberei vir die Australiese somer,” het Smith gesê.

Smith se heldedade met die kolf het nie net toegesien dat hy weer die top-plek op die toetsranglys vir kolwers beklee nie, maar het ook vyandige Engelse toeskouers aan sy kant gekry.

Hy is aanvanklik tydens die Wêreldbeker-toernooi en in die vroeë kolfbeurte van die reeks om die As uitgejou oor sy rol in die balpeutery-skandaal in Suid-Afrika.

“Dit was lekker om goeie applous te kry toe ek van die veld af gestap het (ná sy beurt van 23 lopies). Dis net jammer ek kon nie ’n bietjie meer lopies aanteken nie,” het die 30-jarige Smith gesê.

Volgens dié voormalige Australiese kaptein het sy beurt van 144 lopies op die eerste dag van die reeks op Edgbaston hom die besef en selfvertroue gegee dat hy weer op ’n hoë vlak kon presteer. – Reuters

Meer oor:  Toetskrieket  |  Steve Smith  |  Reeks Om Die As  |  Engeland  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.