Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Gauteng-klubs eis dat raad bedank

Die Central Gauteng Lions (CGL)-krieketunie se jaarvergadering is Donderdagaand ná ’n uur afgelas nadat die raad deur ’n ad hoc-komitee, bestaande uit lede van CGL-klubs, gevra is om te bedank.

Jack Madiseng Foto: gallo
Jack Madiseng. Foto: Gallo

Die raad het geweier om dít te doen. Die stryd handel oor of die sogenaamde Langa-verslag, waarvolgens die CGL-raad volgens ras aangewys word, moet voortduur of stopgesit word. Die Langa-verslag loop vanjaar ná ses jaar, van 2013 tot 2019, ten einde.

Langa se vereistes moes by die jaarvergadering van 2019 ten einde geloop het, maar die proses is gekompliseer deur inmenging van Krieket Suid-Afrika (KSA), wat sonder goedkeuring van die raad geskied.

KSA het oudregter Bernard Ngoepe, wat die hoof van KSA se ondersoekeenheid is, aangestel om te ondersoek of die CGL ten volle getransformeer het sodat daar met die Langa-vereistes weggedoen kan word.

Ngoepe het nog nie met die CGL vergader of klarigheid oor sy mandaat gekry nie.

Nadat die jaarvergadering van Donderdagaand gekanselleer is, blyk dit onwaarskynlik dat ’n jaarvergadering gehou sal word voor KSA se jaarvergadering wat op 7 September plaasvind.

Klubs het genoeg gehad van rasgedrewe beleid.

Dit beteken Jack Madiseng, wat tans die CGL se president is, sal nie ontsetel kan word nie. Hy sal waarskynlik sy presidentskap behou en sodoende ook sy posisie in KSA se raad behou.

Dit versterk bespiegelinge dat Madiseng geoormerk word om by Chris Nenzani as KSA se president oor te neem.

KSA se grondwet is reeds aangepas om Nenzani in staat te stel om ’n bykomende jaar te dien sodat hy KSA se belange in ’n subkomitee van die Internasionale Krieketraad kan bevorder wanneer daar oor die gasheerregte vir ’n toekomstige Wêreldbekertoernooi beraadslaag word.

Die CGL ontken Madiseng word in ’n posisie ingeskuif om Nenzani op te volg.

Die klubverteenwoordigers, wat bykans 65% van die CGL se klubs uitmaak en nie tot oorwegend wit klubs beperk is nie, glo die CGL-leierskap het hul wense vir ’n verkiesing sonder Langa-vereistes geïgnoreer. Daarom is die raad Donderdagaand gevra om te bedank.

Hulle voel die ses jaar wat deur Langa voorgeskryf is, is verstreke en dit is tyd vir verandering

“Langa het die teenoorgestelde gedoen as wat dit veronderstel was om te doen – dit het partye gepolariseer,” sê een van die klublede.

“Dit het posisies volgens raslyne ingeburger en die klubs in die townships het agteruitgegaan.”

Daar blyk twee moontlike uiteindes te wees: Of Langa kom tot ’n natuurlike einde, of dit duur voort, moontlik deur middel van Ngoepe se aanbevelings.

As laasgenoemde gebeur, sal dit lei tot ’n vorm van rasgedrewenheid by die CGL, iets wat KSA sê hy wil vermy.

“KSA wil verseker alle konnotasies van rassisme is uitgewis in Gauteng se Memorandum van Insluiting (MoI),” het Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof, ’n maand gelede in korrespondensie oor Langa aan Greg Fredericks, sy eweknie by Gauteng geskryf.

Die CGL het Vrydag ’n mediaverklaring uitgereik waarin hy sy kant van die saak stel, maar Rapport het bevestig dié verklaring is sonder die goedkeuring van die raad uitgestuur.

Volgens die verklaring is die vergadering “verdaag” terwyl ’n meer akkurate beskrywing sou wees dat dit afgelas is.

In die verklaring word die CGL se finansiële status ook breedvoerig bespreek en daar word gepraat van die “gunstige posisie” waarin die unie hom bevind met ’n “gesonde finan­siële balansstaat”.

Rapport het egter by twee raadslede verneem die unie is met R11 miljoen in die rooi. KSA het nie op navrae gereageer nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.