Chris Gayle, immergroen mokerman van die Wes-Indiese Eilande, het sy visier op ’n derde T20-Wêreldbeker-titel saam met die Windies gestel.
Gayle (41) sal sy internasionale terugkeer ná twee jaar maak wanneer die Windies se T20-reeks Woensdag teen Sri Lanka begin.

Chris Gayle het in 2019 laas vir die Windies gespeel. Foto: Getty Images
Hy het in 2019 in ’n eendagwedstryd teen Indië laas vir die Windies gespeel in ’n kragmeting wat toe as sy laaste internasionale wedstryd bestempel is.
Gayle het homself in T20-ligas oor die wêreld heen besig gehou en het in twee wedstryde vir die Quetta Gladiators in die huidige Pakistanse Superliga gespeel voordat hy na Antigua teruggekeer het.
Hy was deel van die Windie-spanne wat die T20-Wêreldbeker-toernooi in 2012 en 2016 gewen het. Hy sê hy fokus nou op die tuisreeks van drie wedstryde, maar die groter teiken is om die Windies te help om hul T20-titel in Oktober en November vanjaar in Indië te gaan verdedig.
“Die groter prentjie is om drie T20-titels op my kerfstok te kry. Dit is die doelwit wat ek vir myself stel,” sê Gayle.
“Die Wêreldbeker is nog ’n entjie weg, maar wanneer jy jou oë uitvee, is dit Wêreldbeker-tyd. So ons moet probeer om die energie te behou, om fiks te bly en vir ons streek te wys wat in ons steek.”
Hy sê hulle het ’n paar reekse wat nou voorlê en baie krieket wat opbou tot die T20-WB.
“Ons sal soveel as moontlik uit dié reekse wil neem.” – Reuters