Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Gayle bereid om te praat . . . teen regte prys

Die Wes-Indiese krieketster Chris Gayle wil munt slaan uit sy hofsaak teen ’n Australiese mediagroep en het ’n openhartige onderhoud belowe – maar slegs as die prys reg is.

Chris Gayle wil sy storie aan die wêreld vertel, maar teen die regte prys. Foto: Getty Images

Die veelsydige speler het verlede maand ’n lastersaak teen ’n Australiese mediahuis in die hooggeregshof in Nieu-Suid-Wallis gewen.

Dit hou verband met ’n beweerde voorval tydens die Wêreldbekerkriekettoernooi van 2015.

Die jurie het ná minder as twee uur se beraadslaging bevind Fairfax Media het nie daarin geslaag om die waarheid vas te stel in ’n reeks berigte wat beweer het dat Gayle homself aan ’n masseuse tydens die toernooi ontbloot het nie.

Die jurie het ook bevind Fairfax, wat The Sydney Morning Herald en The Age uitgee, is deur “kwaadwilligheid” gemotiveer om die stories oor Gayle te publiseer.

’n Verhoor om te bepaal watter bedrag in skadevergoeding aan Gayle betaal moet word, sal later gehou word, maar ABCNews berig Gayle het reeds sy storie aangebied en die bod begin by $300 000 (meer as R4,2 miljoen).

“Ek het ’n baie interessante, suksesvolle storie om te vertel! Dit kan ’n eksklusiewe onderhoud van 60 minute wees of julle almal kan wag vir my volgende boek!” het hy Vrydag aan sy 3,75 miljoen volgelinge op Twitter getwiet.

“Dit gaan oor wat in die hof en agter die skerms in Australië gebeur het, hoe hulle grootkoppe genader het om my te skors.

“Hoe hulle my wil gebruik as ’n sondebok oor ’n onderhoud – ek sal jou vertel wat ek elke dag ná die hof doen, glo my, wanneer ek alles aan julle verduidelik, sal dit soos ’n fliek wees! Hou niks terug nie!

“Die bod begin by $300 000 vir hierdie onderhoud! So baie om te vertel en ek sal!”

Fairfax het die aantygings gepubliseer nadat Gayle ’n Australiese joernalis, Mel McLaughlin, tydens ’n TV-onderhoud op ’n afspraak uitgevra en persoonlike opmerkings gemaak het.

Chris Gayle tydens sy onderhoud met Mel McLaughlin in Januarie 2016. Foto: Getty Images

Gayle het in die onderhoud, wat regstreeks op televisie uitgesaai is, gesê: “Dit is gaaf om jou oë vir die eerste keer te sien. Hopelik kan ons later ’n drankie saam geniet. Moenie bloos nie, skat.”

Gayle het ná die beslissing in sy guns gesê die ondervinding was “baie emosioneel”.

“Ek het al die pad van Jamaika af gekom om myself en my karakter te verdedig. Ek is baie, baie bly,” het hy gesê.

“Ek is ’n goeie man. Ek is nie skuldig nie.”

Fairfax moet nog aandui of hy dit oorweeg om teen die beslissing te appelleer.

– Sportredaksie

Meer oor:  Chris Gayle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.