Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Gayle trek los: ‘Chris Gayle kry nooit respek’

In ’n bisarre mediakonferensie waar hy vier keer na homself in die derde persoon verwys het, het Chris Gayle te velde getrek oor die chroniese minagting wat hom glo al sy ganse loopbaan volg.

Chris Gayle se paaltjies spat teen die Tshwane Spartans. Foto: Getty Images

Dié 40-jarige Windie-mokerman het sy laaste wedstryd vir die Jozi Stars Sondag op die Wanderers met sy eerste vyftigtal in vanjaar se Mzansi-superliga gevier. Sy 54 teen die Tshwane Spartans volg op power beurte van 17, 18, 0, 11 en 1.

Ná die wedstryd – die Stars se sesde agtereenvolgende nederlaag – is hy uitgevra oor die verdedigende kampioen se kleitrappery.

Eerstens het hy sy misnoeë te kenne gegee met hoe die span verloor het. In hul strewe na ’n bonuspunt het die Stars hul laaste sewe paaltjies vir 13 lopies in 29 aflewerings verloor. Dít terwyl hulle slegs 37 lopies van 34 balle vir ’n oorwinning benodig het.

“Dit was sleg om te sien, ek wou graag vir die ondersteuners iets gee om oor te juig. Dit maak almal seer, vir my ook,” het Gayle begin.

“Dit is nie hoe ’n kampioenspan speel nie. Die franchise sal na homself moet kyk, ek weet nie of dit ’n probleem weg van die veld af is nie.

“Ek het vir die Lions ook gespeel en dit is nie die tipe krieket wat die franchise speel nie. Iets is fout, ek weet nie wat dit is nie, maar dit sal gevind moet word en uitgestryk moet word.”

Daarna het hy begin praat oor ’n opvatting dat Gayle altyd die probleem is. Ondanks vir watter span hy speel.

“Sodra ek vir twee of drie wedstryde nie goed vertoon nie, is dit asof Chris Gayle ’n las vir die span is.

“Ek praat nie net van dié span nie. Dit is iets wat ek opgelet het deur die jare wat ek franchise-krieket gespeel het.

“Chris Gayle is gewoonlik ’n las sodra ek nie drie of vier of hoeveel keer ook al groot lopies aanteken nie. Dan kry ek nie respek nie. Mense onthou nie wat jy vir hulle gedoen het nie.

“Ek praat nie net van hierdie span nie. Ek praat van spelers, bestuur, topbestuur, raadslede . . . Chris Gayle kry nooit die nodige respek nie.

“Sodra Chris Gayle misluk, is dit die einde van sy loopbaan, is hy die swakste speler en al die tipe dinge. Maar gewoonlik verwag en hanteer ek dit.”

Chris Gayle het minstens een vyftigtal in die Mzansi-superliga (MSL) aangeteken. Foto: Gallo Images

Krieket is soos die lewe, sê Gayle.

“Jy moet dit met baie respek benader, anders gaan jy hard aarde toe gebring word.”

Hy is van plan om nou sy batterye te gaan herlaai. Hy sou nie eens in die eerste ses MSL-wedstryde gespeel het nie, was dit nie vir die pret wat hy verlede jaar hier gehad het nie.

“Die omgewing in die kleedkamer was baie lekker. Daarom wou ek vanjaar baie graag weer kom speel, dit het glad nie oor geld gegaan nie.

“Gewoonlik sou ek nou ’n blaaskans geneem het, maar ek wou graag hier wees.”

Meer oor:  Mslt20  |  Mzansi-Superliga  |  Jozi Stars  |  Chris Gayle  |  Msl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.