Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Ge-AB! De Villiers wen wedstryd
AB de Villiers
AB de Villiers vier sy ses van Jofra Archer (in die agtergrond) se boulwerk wat die wedstryd vir RCB beklink het. Foto: IPL

‘Ons is pas ge-AB,” het ’n terneergedrukte Steve Smith erken pas nadat AB de Villiers ’n wonderwerk-beurt gespeel het om die Royal Challengers Bangalore oor die wenstreep te kry in hul Indiese Premierliga (IPL)-wedstryd gister teen Smith se Rajasthan Royals.

Beter kon hy dit nie gestel het nie.

Met twee boulbeurte oor het RCB nog 35 lopies benodig om by die teiken van 178 uit te kom wat die Royals aan hulle gestel het.

Dit was ’n moeilike taak, maar niemand het dít vir De Villiers gesê nie. Hy het losgetrek en die eerste drie aflewerings van die voorlaaste boulbeurt vir sesse gemoker. Hy het die wedstryd, met twee aflewerings oor, met ’n ses van Jofra Archer se boulwerk beklink.

De Villiers het met 55 onoorwonne lopies van slegs 22 aflewerings geëindig.

Op die oog af het hy senuwees van staal. Maar, erken De Villiers, dís nie altyd die geval nie.

“Ek is baie, baie senuweeagtig en ek stres soos enige ander speler. Ek wil goed vertoon vir die span en wys ek is hier vir die regte redes,” sê hy.

“In die vorige wedstryd het ek nie vertoon soos wat ek wou nie, maar hierdie keer het ek. Dis ’n spel van kat-en-muis en ek respekteer altyd die boulers.

“Ek het nie eens een van die sesse in die middel van die kolf getref nie.”

Chris Morris
Chris Morris

Sy vriend en kaptein, Virat Kohli, het hom behoorlik heuning om die mond gesmeer.

“AB is altyd iemand wat die situasie bekyk en sy spel daarvolgens aanpas. Volgens my is hy die speler wat die grootste invloed in die IPL het. As hy op dreef kom, weet die teenstanders hul kanse is gering. Sy teenwoordigheid maak dat teenstanders nooit dink ons is heeltemal uit die wedstryd nie,” sê Kohli.

Dit was De Villiers se vierde vyftigtal van die reeks. Hy spog met ’n gemiddeld van 57 en ’n ongelooflike treftempo van 190.

Gister het sy RCB-spanmaat, Chris Morris, ook geskitter. Hy het 4/26 in sy vier boulbeurte platgetrek. Sy vier slagoffers was boonop al vier die Royals se oorsese spelers – Smith, Jos Buttler, Ben Stokes en Archer.

Ook hy het De Villiers se lof besing. “Dit verstom my steeds hoe AB so kalm is en die bal so ver slaan.”

In die ander wedstryd wat gister gespeel is, het die Suid-Afrikaners ook uitgeblink.

Faf du Plessis
Faf du Plessis en Kagiso Rabada was in ’n botsing betrokke. Foto: IPL

Faf du Plessis se Chennai Super Kings het teen die Delhi Capitals gespeel, vir wie Anrich Nortjé en Kagiso Rabada uitblink. Die Capitals het egter die wedstryd met vyf paaltjies gewen met Shikhar Dhawan (101*) die verwoester.

Nortjé het vroeg in die wedstryd ’n skitterende vangkans op die grenstou benut. Hy het later ook die paaltjie van die gevaarlike Shane Watson platgetrek, en met syfers van 2/44 geëindig.

Du Plessis, wat die derde voorste lopiemaker is (365 lopies) het weer uitgeblink met ’n beurt van 58 (47 balle). Hy het wel Rabada (1/33) se 50ste IPL-slagoffer geword. Rabada het dié mylpaal die vinnigste tot nog toe bereik – in slegs 27 wedstryde.

Du Plessis en Rabada was vroeër in die middel van die blad in ’n groot botsing betrokke. Du Plessis het afgesit vir ’n lopie, en Rabada het sy rug op hom gekeer om te kyk waarheen die bal getrek het. Du Plessis het in Rabada, wat ’n tree agtertoe geneem het, vasgehardloop en soos ’n lappop neergeslaan. Hulle is albei ongedeerd.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.