Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Gerald (19) sien uit om teen Dale te speel

Toe Chris Gayle sy internasionale eendagbuiging in September 1999 gemaak het, was dit nog meer as ’n jaar voordat Gerald Coetzee in Oktober 2000 gebore is.

Nou deel dié twee krieketspelers ’n kleedkamer by die Jozi Stars in vanjaar se Mzansi-superliga (MSL).

Gerald Coetzee stuur een van sy kartetse vir die Knights in die meerdagreeks af. Foto: Gallo Images

Terwyl die Windie-kanonkolwer Gayle reeds die krieketwêreld verower het en vir twee dekades een van die spel se konings was, meen nog ’n krieket-koninklike, Allan Donald, Coetzee is Suid-Afrika se volgende kroonjuweel.

Donald het Coetzee onlangs by die Knights onder hande geneem. “Hy gaan ’n baie spesiale bouler word. Hy gaan eersdaags vir Suid-Afrika speel,” het die Witblits in Oktober aan Netwerk24 gesê.

Die tiener Coetzee sê hy drink soveel as moontlik uit die onuitputbare bron van boulkennis waaroor Donald beskik.

“Om saam met Allan Donald te kan werk, is fantasties. Hoe hy my laat glo dat ek eendag iets groots kan wees, is ongelooflik,” sê Coetzee.

Hy het sy eersterangse buiging vyf dae ná sy 19de verjaardag gemaak in die Knights se eerste wedstryd van die meerdagseisoen teen die Warriors in Kimberley. Só hoog word Coetzee aangeslaan, dat hy nie gevra is om homself eers by die semi-professionele span te bewys nie.

Hy is dadelik in die drukkoker van franchise-krieket ingegooi. En daar floreer hy.

Coetzee het reeds 17 paaltjies in vier eersterangse wedstryde platgetrek. Dit sluit in twee oeste van vier paaltjies.

Dit het die Jozi Stars se aandag op hom gevestig en hy is nader gehark as ’n plaasvervanger vir die beseerde Eathan Bosch.

“Om nou hier te kan wees saam met die Jozi Stars, is ook ongelooflik.”

Hier kan hy by spelers soos Gayle, Kagiso Rabada, Duanne Olivier en Dan Christian leer – iets wat hy as ’n groot geleentheid beskou. Dit is egter nie net sy spanmaats by wie hy hoop om te leer nie. . .

Ek sien myself as ’n veelsydige speler, maar hierdie vlak is baie anders as skoolvlak.

“Ek was nog altyd ’n groot Dale Steyn-ondersteuner,” antwoord hy sonder om te aarsel toe hy oor sy helde gepols is.

“Nou kan ek dalk die geleentheid kry om teen hom te speel, wat half angswekkend is.”

Die 36-jarige Steyn speel vir die Cape Town Blitz, teen wie die Stars hul veldtog Vrydag in Johannesburg begin.

Buiten Steyn is die Aussie-snelbouler Pat Cummins ook een van Coetzee se helde.

“Soos sy uithouvermoë. . . ja, hy is ’n masjien.”

Net soos Cummins is Coetzee nie kruppel met die kolf nie. Hy het op skoolvlak selfs so hoog as nommer drie gekolf.

Hy het boonop reeds tellings van 48* en 59* in vier kolfbeurte vir die Knights aangeteken.

“Ek sien myself as ’n veelsydige speler, maar hierdie vlak is baie anders as skoolvlak. Ek gaan baie hard moet werk en vinnig moet leer hoe om lopies op hierdie vlak te slaan,” sê Coetzee, wat reeds ’n voorliefde vir rooibalkrieket het.

“Op die oomblik sien ek myself as ’n veelsydige speler en ek mik om eendag as een gesien te word.”

Coetzee was al van jongs af gesien as ’n toekomstige ster. Hy was 16 toe hy reeds by die SA o.19-span betrek is, maar die SA Skolekaptein sien al die verwagtinge nie as ’n bykomende las op sy skouers nie.

“Alle krieketspelers is onder groot druk, dit maak nie saak of jy 19 of 39 is nie. Daar word van ouer en jonger ouens verwag om goed te doen. Ek geniet druk. Soms is dit sleg, maar om druk op hierdie vlak te hê, is ’n voorreg.”

* Die Jozi Stars en Cape Town Blitz se stryd begin om 17:30 en word regstreeks op SABC 3 uitgesaai.

Meer oor:  Mslt20  |  Mzansi-Superliga  |  Chris Gayle  |  Gerald Coetzee  |  Msl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.