Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Gerald gee o.19’s welkome hupstoot

Welkom terug, Gerald!

Die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan se kaptein, Bryce Parsons, het die afgelope week breed geglimlag nadat die staatmaker-bouler Gerald Coetzee net betyds vir die Wêreldbekertoernooi die krieketbal laat sing het.

Gerald Coetzee

Die o.19’s se WB-toernooi begin Vrydag in Kimberley, met ’n wedstryd tussen die jong Suid-Afrikaners en hul eweknieë van Afganistan. Terwyl die gemiddelde Suid-Afrikaanse ondersteuner in sy pap sal stik as die Junior Proteas verloor, sal die spelers self daardie wedstryd met ’n tikkie meer selfvertroue ingaan noudat Coetzee terug op die been is.

Die 19-jarige Bloemfonteiner was byna twee maande op die krukkelys nadat hy in November ’n dyspierbesering opgedoen het. Met sy terugkeer Donderdag, in die eindstryd van ’n vierhoekige reeks teen Indië, het Coetzee egter oorgehaal gelyk en drie paaltjies vir 19 lopies laat kantel.

Parsons was verheug daaroor.

“Baie van ons spelers kyk op na Gerald. Hy bring daardie intimidasie-faktor na ons boulaanval. Sy terugkeer is ’n groot hupstoot vir ons en ek is baie gelukkig daaroor,” het hy gesê.

Saam met die soet van Coetzee se terugkeer, was daar wel vir die Suid-Afrikaners die suur van ’n nederlaag met 69 lopies teen Indië. Dit beteken hulle het die reeks met net een oorwinning (met vyf paaltjies oor Nieu-Seeland) saam met drie loesings (insluitend een teen Zimbabwe) afgesluit.

Dis beswaarlik die beste voorbereiding vir ’n WB-toernooi.

In die eindstryd het ’n ou kwaal – die verkrummeling van hul middelorde – die Proteas vroeg op die agtervoet geplaas en tot net 190 lopies beperk. Dit was die derde keer in die reeks dat hulle nie die 200 lopie-kerf kon haal nie.

Gelukkig vir die jong Suid-Afrikaners wag daar (op papier, in elk geval) nie te veel haakplekke in die groepfase van die WB-toernooi nie. Ná Afganistan wag Kanada (22 Januarie in Potchefstroom) en die Verenigde Arabiese Emirate (25 Januarie in Bloemfontein).

Die twee voorste spanne in die vier groepe sal deurdring tot die Superliga-kwarteindronde van die toernooi, wat van 28 Januarie af beslis word – en daar sal Parsons-hulle beslis nie kan kleitrap nie.

Hy gee te kenne hulle sal teen daardie tyd aansienlik meer bestendig moet wees as tans.

“Ons gaan die Wêreldbeker in met ’n bietjie selfvertroue, maar ons konsekwentheid sal moet verbeter,” het hy gesê.

“Maar ons is steeds opgewonde (oor die vooruitsigte van die Wêreldbeker).”

Dis nou reeds ses jaar sedert Suid-Afrika laas die Wêreldbeker kon wen. Protea-sterre soos Kagiso Rabada, Aiden Markram en Andile Phehlukwayo was almal deel van daardie groep.

Vanjaar se Junior Proteas-groep is: Bryce Parsons (k), Khanya Cotani, Luke Beaufort, Jonathan Bird, Merrick Brett, Achille Cloete, Gerald Coetzee, Tyrese Karelse, Mondli Khumalo, Jack Lees, Andrew Louw, Levert Manje, Odirile Modimokoane, Pheko Moletsane, Tiaan van Vuuren.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.