Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Geskorste Corrie gaan aanbly by KSA

Corrie van Zyl gaan danksy sy magdom kennis rakende krieketsake straks deur Krieket Suid-Afrika (KSA) as werknemer behou word.

Die 58-jarige Van Zyl het glo ’n waarskuwing gekry nadat hy en nog twee senior amptenare aan die einde van Oktober geskors is hangende ’n ondersoek na beweerde pligsversuim. Daar was in ’n stadium sprake dat daar van hulle sondebokke gemaak is.

Corrie van Zyl. Foto: Gallo Images

Van Zyl, voormalige krieketbestuurder van KSA, was ten tyde van die skorsing die beheerliggaam se waarnemende direkteur.

Hy het die Proteas in sy speeldae verteenwoordig en hulle later ook afgerig.

Daar word agter die skerms effens geskaaf aan wat sy nuwe portefeulje sal wees. Hy sal glo in diens as ’n sogenaamde pyplyn-bestuurder aanbly. 

KSA het vroeër in ’n verklaring, kort ná sy skorsing, gesê van sy personeel het na bewering hul pligte versaak met spelersgeld van die eerste Mzansi-superliga (MSL) wat uitstaande gebly het.

Dít was nadat die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging (Saca) ’n dispuut verklaar het nadat hy vir etlike maande probeer het om die kwessie met KSA uit te klaar.

KSA het toe ’n proses begin om die saak te ondersoek en om te bepaal tot watter mate van sy werknemers hul plig versuim het of nie.

Van Zyl, Naasei Appiah, die hoofbedryfsbeampte, en Clive Eksteen, hoof van kommersiële sake en bemarking by KSA, is toe geskors hangende ’n ondersoek na beweerde pligsversuim rakende die beeldregtekwessie van 2018 se MSL.

Dit is nie seker wat Appiah en Eksteen se lot is nie. Netwerk24 wag steeds op ’n antwoord van KSA daaromtrent.

* Intussen word bespiegel die president van KSA, Chris Nenzani, gaan gevra word om die tuig neer te lê.

Daar is sprake dat ’n mosie teen hom ingestel kan word by Woensdag se raadsvergadering in Oos-Londen as hy dit nie doen nie. Die proses om hom uit te stem kan twee tot drie maande neem.

Nenzani word deur baie krieketlui daarvan beskuldig dat hy nie vroeër daadwerklik opgetree het teen Thabang Moroe, KSA se geskorste uitvoerende hoof, nie. Moroe het die spel in chaos gedompel met talle bedenklike besluite, waaronder die opskorting van sommige joernaliste, wat krities was oor sy bestuurstyl, se akkreditasie.

Meer oor:  Krieket  |  T20  |  Toetskrieket  |  Corrie Van Zyl  |  Eendagkrieket  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.