Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Gevaarlik as Krieket SA BLM ‘steun’

As Krieket Suid-Afrika (KSA) die standpunt sou inneem dat hy die Black Lives Matter (BLM)-beweging steun, is “ons op ’n baie gevaarlike plek,” sê die voormalige Protea-kolwer Boeta Dippenaar.

Die spelers van Engeland en die Wes-Indiese Eilande het almal Woensdag gekniel voor die eerste toets in Southampton begin het. Dit was ’n betuiging van solidariteit met die Black Lives Matter-beweging. Foto: Getty Images

Dippenaar en ander oudspelers soos Rudi Steyn en Pat Symcox het hulle op sosiale media uitgelaat nadat die Protea-naatbouler Lungi Ngidi vandeesweek gesê het hy glo BLM-gesprekke sal in die Protea-kamp gevoer word.

“As ’n land het ons ’n moeilike verlede met betrekking tot rassediskriminasie. Ons sal die kwessie as ’n span benader. As dit nie natuurlik gebeur nie, sal ek seker maak ek haal dit op,” het Ngidi gesê.

Die oudspelers sê boere moet ook ondersteuning kry en dat dit lyk of Ngidi sy standpunt op die span afdwing.

“My standpunt is die volgende: Sodra jy vir een groep mense sê hulle lewens maak saak, sluit jy iemand anders uit,” het Dippenaar Donderdag aan Netwerk24 gesê.

Lungi Ngidi het vandeesweek gesê hy sal self Black Lives Matter-gesprekke in die Protea-span begin indien nodig. Foto: Getty Images

“Die feit dat Lungi Ngidi praat asof die span as ’n kollektiewe eenheid sy standpunt moet inneem, is na my mening verkeerd. Hy is honderd persent geregtig om daardie standpunt te hê. Ek sal dit respekteer.

“Ek sal enige tyd saam met jou staan vir swart lewens, maar staan dan saam met my vir plaasboere wat aangeval word. Hoekom moet daar vir die een opgestaan word, maar nie vir die ander een nie?”

Dippenaar sê die BLM-beweging is “geïnfiltreer as ’n linkse politieke beweging”.

“Sodra jy jou vinger daarin steek, is jy op gevaarlike terrein.” Daarom sal KSA ’n fout begaan as hy sy steun aan die beweging toesê, meen Dippenaar.

Veral hy en Symcox het op Twitter deurgeloop onder ondersteuners van die BLM-beweging. Spelers soos Tabraiz Shamsi en Sibonelo Mkhanya het ook hul ondersteuning aan Ngidi op Twitter uitgespreek.

Dippenaar sê dié kritiek pla hom nie en dat mense na feite moet kyk, liewer as om emosioneel te reageer. Hy sal ook nie ophou om sy mening op sosiale media uit te spreek uit vrees dat hy by SuperSport, waar hy as ’n Afrikaanse kommentator werk, in die moeilikheid kan kom nie.

Boeta Dippenaar glo BLM is “as ’n linkse politiekeb beweging geïnfiltreer.” Foto: Getty Images

“Ek dink nie so nie. Ek dink as ’n mens vir die verkeerde goed staan, moet jy bereid wees om jou pak slae te vat. Ek dink nie waarvoor ek staan, is verkeerd nie. Ek het niemand beledig nie,” sê hy.

Ook Steyn het Donderdag aan Netwerk24 gesê hy het nie ’n probleem daarmee as Ngidi ’n opinie het nie.

“Dis sy reg, maar wanneer hy wil hê die Proteas of KSA moet hom ondersteun en sy opinie uitdra, dan raak die opinie iets waarvoor die Proteas en ook KSA staan,” sê Steyn.

“Ons is nie Engeland, of enige ander land nie. Hoewel rassisme daar ook groot is, was ons die enigste land met ’n apartheidsbeleid.

“Om dié rede is ons situasie baie meer ingewikkeld. Ons is ook die enigste land in die wêreld wat sulke hoë getalle plaasmoorde het.

“Tans word duisende boere op plase vermoor. Dit is die hoogste vlak van rassisme, maar tog wil ons regering dit nie herken of optree nie.

Ek glo rêrig ons as krieketspelers het dit in ons om hierdie groot verdeling in voorreg, ras, geloof en houdings te help heel.
Vince van der Bijl

“Deur nou BLM te ondersteun, terwyl plaasmoorde as onbelangrik geag word, is ons besig om ’n groter wig in te dryf tussen die verskillende rasse in ons land.

“As ons regtig ’n reënboognasie wil wees, moet ons bereid wees om albei groepe te ondersteun en dit word nie gedoen nie.”

Die oud-snelbouler Vince van der Bilj het gereageer op ’n Facebook-inskrywing van Steyn en sê hy staan by Ngidi in die BLM-kwessie.

“Ek glo rêrig ons as krieketspelers het dit in ons om hierdie groot verdeling in voorreg, ras, geloof en houdings te help heel. Slegs dan kan ons ’n behoorlik verenigde nasie wees. Dis die moeite werd om voor te sterf.”

Spelers van Engeland en die Wes-Indiese Eilande het Woensdag voor die begin van die eerste toets in Southampton gekniel om hul solidariteit met die BLM-beweging te betoon. Die spanne speel ook met ’n BLM-kenteken in hul hemde se kraag.

Meer oor:  Black Lives Matter  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas  |  Pat Symcox  |  Boeta Dippenaar  |  Lungi Ngidi  |  Blm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.