Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Gevegte broei steeds ondanks bedankings

Krieket Suid-Afrika (KSA) se president, Beresford Williams, en die provinsiale presidente het bedank as direkteure van die raad, maar daar broei steeds onmin tussen die lederaad en die oorblywende onafhanklike direkteure.

KSA se lederaad het Donderdagaand ’n mosie aanvaar waarop daar aangedring is dat al die KSA-raadslede moet bedank.

Beresford Williams het bedank as president van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Williams, Tebogo Siko (president van Noordelikes), Angelo Carolissen (president van Boland), John Mogodi (adjunkpresident van Limpopo Impala) en Donovan May (president van Oostelike Provinsie) het die naweek as raadslede bedank.

Williams het ook bedank as ’n lid van die lederaad. Die lederaad bestaan uit die 14 provinsiale presidente en kies die lede van die raad van KSA.

Die onafhanklike direkteur Dheven Dharmalingam het ook bedank, maar sy mede- onafhanklike direkteure Eugenia Kula-Ameyaw, Marius Schoeman en Vuyokazi Memani-Sedile is steeds in die tuig.

Die mosie Donderdagaand deur die lederaad was ná intense druk deur die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa.

Die minister het KSA tot Dinsdag gegee om hom redes te verskaf waarom hy nié by KSA moet ingryp nie.

Netwerk24 het verneem dat die lederaad ’n skrywe aan die minister gaan rig waarin hy sê dat die nuwe waarnemende raad nog vandeesweek gekies sal word.

KSA sal egter tot Dinsdag toe moet wag om te hoor of die minister te vinde is vir dié plan.

Dié raad sal die leisels neem tot die jaarvergadering aan die begin van Desember. Die minister kan een van die raadslede op die waarnemende raad benoem.

KSA sal egter tot Dinsdag toe moet wag om te hoor of die minister te vinde is vir dié plan.

Daar was Sondag ook nog geen sekerheid oor wat die lederaad se plan met die onafhanklike direkteure was nie.

Hoewel die hele raad se bedanking geëis is, is dit onseker of die lederaad die mag het om die onafhanklike direkteure af te dank.

En dan of die minister daarop gaan aandring.

Die raad het in onguns geraak ná die hopelose wyse waarop hy die afdanking van die voormalige uitvoerende hoof, Thabang Moroe, hanteer het.

Ná amper 10 maande waarin KSA van die een krisis na die volgende gesteier het, is sake nou ietwat meer positief. Veral met die nuus dat die eendag- en T20-reeks teen Engeland teen die einde van November en Desember sal plaasvind.

Dit is ’n broodnodige reeks wat sowat R70 miljoen in KSA se leë koffers sal pomp.

Die Proteas speel ook twee toetse in Gauteng oor Kersfees en Nuwejaar teen Sri Lanka.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.