Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Giants hou kop om Blitz om te dop

Kolfineenstortings deur die Nelson Mandela Bay Giants en die Cape Town Blitz het Vrydagaand se Mzansi-superliga-stryd op Nuweland gekenmerk. Die Giants het egter enduit kopgehou om sy plek boaan die puntelys te verseker.

Die Giants se Imran Tahir het Vrydagaand 2/22 teen die Cape Town Blitz op Nuweland geneem. Foto: Gallo Images

Die besoekers het met 11 lopies gewen.

Die Giants het nou 27 punte ná 9 wedstryde. Hulle speel hul laaste wedstryd Sondag in die Paarl teen die Paarl Rocks (23), die tweede geplaaste span.

Die Blitz, met 17 punte ná 9 wedstryde, se kanse hang egter aan ’n dun draadjie voordat hy Sondag sy laaste wedstryd teen die Tshwane Spartans in Centurion gaan speel.

Dit lyk of albei dié wedstryde deur reën geaffekteer sal word, sodat al vier spanne dan met twee ligapunte tevrede sal moet wees.

Net twee punte sal straks nie genoeg wees om die Blitz te red nie. Hulle is nou vier punte agter die Spartans, wat tans die derde plek op die leer beklee.

Slegs die top-3 spanne dring deur na die uitspeelfase.

Die Giants het eerste gekolf en 173/6 in hul 20 boulbeurte aangeteken. Dit het egter ’n skitterende terugvegpoging deur die Kaapse span se boulers gekos om dié telling te beperk.

Die Baaise span was goed op pad na ’n telling noord van 200 toe hulle hul eerste paaltjie op 136 in die 14de boulbeurt verloor het. Daardie verlies het ’n lelike ineenstorting ingelei, met die Giants wat daarna vyf paaltjies vir 26 lopies in die laaste 36 balle verloor het.

Die Giants se goeie begin was te danke aan ’n puik aanvangsvennootskap tussen Ben Dunk (75 van 56 balle; 6x4, 4x6) en Matthew Breetzke (74 van 40 b; 7x4, 2x6).

Wahab Riaz word gelukgewens met nog ’n paaltjie. Foto: Gallo Images

Die Blitz moes in die Giants se kolfbeurt klaarkom sonder die grootste paaltjievraat in vanjaar se reeks, Dale Steyn, wat voor die wedstryd nie ’n fiksheidstoets kon slaag nie.

Hy sukkel met ’n sybesering.

In sy afwesigheid het die Blitz se ander internasionale bouler, die Pakistani Wahab Riaz, egter gróót skade aangerig.

Hy het ’n verstommende laaste twee boulbeurte afgestuur. Hy het drie paaltjies in sy laaste twee boulbeurte geneem vir net 8 lopies om die momentum heeltemal in die tuisspan se guns te swaai.

Die Blitz was in hul kolfbeurt net soos die Giants blitsig uit die blokke. Quinton de Kock (40 van 19 b; 7x4, 1x6) en Janneman Malan (60 van 41 b; 1x4, 6x6) het 86 sonder verlies in die eerste ses beurte aangeteken. Dit is die hoogste telling nóg in die kragspel in die twee seisoene van die MSL.

Die Blitz het egter daarna lelik stoom verloor. Die paaltjies het soos domino’s begin val en hulle het van 85/0 tot 162/8 getuimel.

Saterdag se wedstryd is tussen die segelose Jozi Stars en die Durban Heat. 

TELKAART

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.