Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Gibbs kap Amla oor ‘slakkepas-beurt’

Herschelle Gibbs het Hashim Amla, sy voormalige Protea-spanmaat, fel op Twitter gekritiseer ná Amla se honderdtal Saterdag in die eerste eendagwedstryd teen Pakistan in Port Elizabeth.

Hashim Amla op pad na sy 27ste eendaghonderdtal, Saterdag in Port Elizabeth teen Pakistan. Foto: Gallo Images

Amla (108, 120 balle; 7x4, 1x6) se honderdtal kon die Proteas nie van ’n nederlaag met vyf paaltjies red nie. Ná die tyd, is die Proteas wyd gekritiseer vir die telling wat hulle aangeteken het, gegewe hoeveel paaltjies hulle nog in die bank gehad het.

Suid-Afrika se telling van 266/2 was die laagste telling vir ’n span wat sy volle 50 beurte deur gekolf en twee of minder paaltjies verloor het, sedert die Wêreldbeker-toernooi van 1992.

Herschelle Gibbs. Foto: Gallo Images

Dit was veral Suid-Afrika se onvermoë om in die laaste tien beurte te versnel, wat kritiek ontlok het.

Die voormalige Protea-kolwer Gibbs het sy gifpen behoorlik op sosiale media ingespan.

“Hulle soek steeds enkellopies in die 48ste boulbeurt, met agt paaltjies staande? Is jy ernstig?” het Gibbs tydens die wedstryd getwiet.

“Hoe kan albei kolwers (Amla en die debutant Rassie van der Dussen, wat 93 van 101 balle aangeteken het) dieselfde benadering volg? Een van hulle moes lankal die sneller getrek het,” het hy in die laaste tien beurte getwiet.

Amla se gesukkel om grenshoue aan te teken, het hom dwars in die krop gesteek. Dié kolwer het tussen die 24ste boulbeurt en die 42ste boulbeurt nie ’n enkele grenshou geslaan nie.

Een van Gibbs se Twitter-volgelinge het hom daarop gewys dat Amla steeds teen ’n treftempo van 90 gekolf het.

“Vandag het hy (Amla) nie die situasie gespeel nie en as ’n ervare speler, moes hy beslis van beter geweet het.”

Dieselfde volgeling het toe daarop gewys dat Amla die laaste paar seisoene met sy kolfpeil gesukkel het en dat dié beurt hom selfvertroue sou gee.

“Jy moet nooit jou eie belange bo dié van die span stel nie. Moet hom ook nie probeer verdedig nie, hy weet van baie beter,” was Gibbs se antwoord.

Hy sê ’n mens kon “op ’n myl ver” sien dat Amla vir eie gewin gekolf het.

Volgens Gibbs het die onus ook nie op Van der Dussen gerus om die lopietempo op te jaag nie.

“Die senior speler (Amla) ken die situasie beter. Rassie het die situasie so goed gespeel soos wat ’n speler wat sy debuut maak, moontlik kan.

“Ek is ’n bietjie bekommerd dat ’n senior speler só kan speel en geen kritiek van die kaptein of die afrigter kry nie. Interessant, om die minste daarvan te sê.”

Meer oor:  Hashim Amla  |  Herschelle Gibbs  |  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.