Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
WB: Gibbs sal Amla vir eers weglaat

Selfs al ryg Hashim Amla die lopies in die Proteas se Wêreldbeker-opwarmwedstryde in, sal Herschelle Gibbs steeds met Aiden Markram volhard as Quinton de Kock se aanvangsmaat by dié krieketskouspel.

Aiden Markram op die aanval vir Hampshire. Foto: Getty Images

Die samestelling van die Proteas se voorkeur-elftal vir die WB-toernooi, wat op 30 Mei met ’n kragmeting tussen Suid-Afrika en Engeland op die Oval begin, is betreklik voor die hand liggend. Die aanvangskolwer-posisie is egter die een uitsondering.

Van die twee kandidate om die beurt saam met De Kock te begin, is Markram se spelpeil aansienlik beter.

Hy het Sondag ’n waardevolle tydperk by die Engelse graafskapspan Hampshire met ’n telling van 61 afgerond voordat hy na Suid-Afrika terugkeer om hom by die Protea-groep aan te sluit.

Dit was sy derde vyftigtal, terwyl hy ook ’n honderdtal aangeteken het in die agt wedstryde wat hy vir Hampshire in die Royal London-eendagreeks gespeel het. Hy keer terug na Suid-Afrika as die naasbeste lopiemaker in dié reeks, met 466 lopies teen ’n gemiddeld van 58.25 en ’n briljante treftempo van 101.96 in sy agt wedstryde.

Dit is waarskynlik veilig om te sê Markram het die Engelse toestande baasgeraak in sy tydjie daar.

In teenstelling daarmee, is Amla arm wat wedstrydfiksheid en -skerpheid betref. Die hoogste telling wat hy in agt T20-beurte vir die Cobras in April kon aanteken, was 32.

Hy verwyl tans sy tyd saam met die Protea-kolfafrigter, Dale Benkenstein.

Herschelle Gibbs duik in die veld tydens die Proteas se Wêreldbeker-wedstryd teen Nieu-Seeland in 2007. Foto: Gallo Images

As Gibbs die besluit moes neem, sou daar nie veel van ’n kwessie gewees het nie.

“Ek sou nie met Hash begin nie. Aiden is die ander aanvangskolwer (naas De Kock) wie se spelpeil tans goed is, so ek sou vir Hash langs die grenstou hou vir eers,” sê Gibbs, wat in drie WB-toernooie Suid-Afrika se eerstekeuse-aanvangskolwer was.

Gibbs glo wel Amla sal ’n kans kry om sy spelpeil te herwin in die twee opwarmwedstryde – op 24 Mei teen Sri Lanka in Cardiff en op 26 Mei teen die Windies in Bristol.

“As hy lopies in die opwarmwedstryde kry, kan hulle kom dalk die beurt laat begin en vir Aiden op nr. 3 laat kolf.”

In só ’n geval sal Rassie van der Dussen uitval – ’n man wie se kolf ook witwarm flits die laaste paar maande.

“Dit sal nie werk as Hash enige ander plek kolf nie, so hy sal die beurt moet begin . . . Rassie en Markram het onlangs lopies aangeteken, so ek sal met hulle volhard en Hashim vir eers langs die grenstou hou.”

Gibbs sê Amla se treftempo (89.22) is steeds goed genoeg om Suid-Afrika tot ’n goeie begin te help, maar bloot op spelpeil sal hy vir Markram die beurt saam met De Kock wil sien begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.