Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Gibbs: Shamsi moet 5 kg afskud
Herschelle Gibbs / Foto: Gallo Images

Herschelle Gibbs reken die Proteas het nie ’n bykomende kolwer nodig op die Wêreldbeker-toernooi nie. Hy sal dus vir Hashim Amla én Rassie van der Dussen met Jan Tuisbly se karretjie laat ry.

In sy Wêreldbeker-groep, wat dié voormalige Protea-aanvangskolwer op Twitter gedeel het, kom Tabraiz Shamsi se insluiting boonop met die voorwaarde dat hy vyf kilogram moet afskud.

Die groot verrassing in Gibbs se voorkeurgroep is die insluiting van die linkshandige swaaibalbouler Beuran Hendricks.

Beuran Hendricks

Gibbs, wat die Proteas in drie Wêreldbeker-toernooie verteenwoordig het, sal dus met vyf voorslag-snelboulers in Dale Steyn, Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé en Beuran Hendricks reis. Hy kies twee draaiers – Imran Tahir en ’n meer vaartbelyne Shamsi.

Sy twee veelsydige spelers sal Dwaine Pretorius en Andile Phehlukwayo wees, terwyl slegs ses voorslagkolwers sy groep haal. Hulle is Faf du Plessis, Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Aiden Markram, JP Duminy en David Miller.

In die aanvanklike groep wat Gibbs getwiet het, het Van der Dussen se naam ook verskyn. Die oud-Protea het egter sy fout agtergekom.

“Jammer, my fout, ek het 16 name in plaas van 15 gegee. Laat vir Van der Dussen weg,” het hy in ’n tweede twiet geskryf.

Die kanse dat Van der Dussen uit die werklike groep gelaat gaan word, is egter bitter skraal.

Tabraiz Shamsi moet vyf kilo’s afskud, seg Herschelle Gibbs. Foto: Gallo Images

Die keurders sal liewer tussen Amla en Reeza Hendricks kies – dít is die grootste gesprekspunt op die oomblik.

Slegs twee uit Amla, Hendricks en Markram behoort saam te reis na die skouspel wat op 30 Mei in Engeland begin. Markram se onlangse spelpeil, sy ouderdom (24), sy veelsydigheid en die feit dat hy geoormerk word om die kapteinskap by Du Plessis oor te neem, maak van hom ’n te aanloklike kandidaat om uit te laat.

Op ’n vraag van een van sy volgelinge oor of die weglating van Amla dalk ’n fout was, antwoord Gibbs: “Dit was geen fout nie, nee . . .”

’n Ander volgeling voel dit sal ’n fout wees om Amla weg te laat vanweë sy wavrag ervaring.

“Ons het nog nooit vantevore ’n Wêreldbeker gewen nie, so ons het niks om te verloor nie, ervaring ofte not,” antwoord Gibbs.

“As jy hom kies, gaan jy soontoe met bekommernisse oor sy spelpeil en veldwerk. Dit is die laaste ding wat jy wil hê. Hy het ook onlangs nie genoeg gespeel nie.”

Dit sal ook ’n reuse-verrassing wees as Beuran Hendricks die groep haal wat komende Donderdag aangekondig word. Nortjé behoort die enigste plaasvervanger-snelbouler te wees.

Gibbs se denkwyse agter dié linksbouler se insluiting, is dat hy afwisseling sal bied.

Gibbs se WB-groep: Faf du Plessis, Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Aiden Markram, JP Duminy, David Miller, Kagiso Rabada, Imran Tahir, Dwaine Pretorius, Dale Steyn, Anrich Nortjé, Lungi Ngidi, Andile Phehlukwayo, Beuran Hendricks, Tabraiz Shamsi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.