Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Gibbs wil in nuwe SA spogliga speel

Die voormalige Protea-aanvangskolwer Herschelle Gibbs wil sy kolf afstof en bitter graag later vanjaar in die T20 Global League (T20GL) in Suid-Afrika speel.

Herschelle Gibbs in 2010 vir die Proteas teen Indië in Jaipur in aksie. Foto: Gallo Images

Die 43-jarige Gibbs het Donderdag gesê hy het by die bekendstelling van die agt spanne se eienaars drie weke gelede in Londen met ’n voornemende afrigter van een van die spanne gesels.

“Die afrigter is gaande oor die idee dat ek vir sy span speel. My begeerte om krieket te speel, is ook nog daar, maar niks is nog amptelik nie,” sê Gibbs.

Hy wou nie die betrokke afrigter se naam verstrek nie, omdat hy nog nie amptelik as breier van die betrokke span aangewys is nie. Gibbs het wel gesê dit is een van “die spanne in die noorde” en nie ’n Kaapse span nie.

Gibbs het ook gesê hy het twee maande gelede met die Cape Cobras gepraat oor die moontlikheid om weer vir hulle te speel.

“Ek weet nie hoekom nie, maar ek het nog niks van hulle gehoor nie.”

Gibbs sê sy begeerte om weer te speel, is eenvoudig te groot om te ignoreer.

“Ek wil nie eendag terugkyk en spyt wees oor die feit dat ek nie weer probeer het nie. Mense sal my ouderdom bevraagteken, maar ek is steeds fiks.

“Kyk maar na Brad Hogg (die 46-jarige voormalige Australiese draaibouler). Hy speel nog in die Big Bash-liga. Ek is nou eers 43. Dit gaan meer oor die begeerte om te speel as enigiets anders,” sê hy.

Gibbs het in 2013 laas beroepskrieket gespeel toe hy vir die St. Lucia Zouks in die Karibiese Premierliga diens gedoen het.

Sy laaste wedstryd vir die Proteas was ’n T20-wedstryd in 2010 teen Pakistan.

Ek wil nie eendag terugkyk en spyt wees oor die feit dat ek nie weer probeer het nie.

Gibbs sê die T20GL hou baie voordele vir Suid-Afrika in.

“Uit ’n finansiële oogpunt is dit uiteraard baie goed vir krieket in die land. Maar dit gee ook aan jong Suid-Afrikaanse krieketspelers die kans om op ’n hoë vlak mee te ding. Dit gee spelers blootstelling wat nie noodwendig goed genoeg is om Suid-Afrika op toetsvlak te verteenwoordig nie,” sê hy.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het vroeër die eienaars van die agt spanne wat in dié toernooi, wat in November vanjaar begin en op 16 Desember klaarmaak, bekendgemaak.

Spanne sal in Stellenbosch/Paarl, Kaapstad, Port Elizabeth, Bloemfontein, Durban, Pretoria, Benoni en Johannesburg gesetel wees.

Spelers wat in die T20GL wil speel, moes voor die einde van Mei ’n belangstellingsvorm by KSA ingedien het. Meer as 400 spelers het glo reeds aangedui hulle wil in dié toernooi speel. KSA sal diegene laat weet wat aan hul kriteria voldoen.

Dié spelers sal dan in ’n spelerstrekking deur die verskillende spanne gekies word.

Dié trekking vind op 19 Augustus plaas en elke span mag 17 spelers kontrakteer.

Meer oor:  Herschelle Gibbs  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.