Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
G’n Kiwi voorgetrek met WB-prysgeld

Die $2 miljoen (bykans R28 miljoen) wat Nieu-Seeland se krieketspan vir sy nederlaag in die Wêreldbekereindstryd verdien het, sal gelyk onder die spelers verdeel word, ongeag individue se speelkans in die toernooi.

Kane Williamson, kaptein van die Kiwi’s, gesels met sy span voordat hulle gaan veldwerk doen in die eindstryd teen Engeland. Foto: Getty Images

Die Swartpette het $2 miljoen ontvang omdat hulle die eindstryd gehaal het, terwyl die seëvierende Engelse $6 miljoen (bykans R84 miljoen) in die sak steek.

Stuff berig die kontrakteringsmodel van die Kiwi’s bepaal prysgeld vir alle toernooie word gelyk tussen groeplede verdeel.

Volgens Nieu-Seeland Krieket (NZC) word die totale bedrag aan die spelers betaal en die beheerliggaam eis nie ’n sent nie. Die span se ondersteuningspersoneel sal ook ’n gedeelte ontvang.

Die gelyke verdeling beteken diegene soos die plaasvervanger-paaltjiewagter Tom Blundell – wat nie ’n enkele wedstryd gespeel het nie – ontvang dieselfde bedrag van ongeveer $187 500 as sy kaptein, Kane Williamson.

Die plaasvervanger-paaltjiewagter Tom Blundell het nie ’n enkele wedstryd in die toernooi gespeel nie, maar ontvang dieselfde bedrag prysgeld as sy kaptein, Kane Williamson. Foto: Getty Images

Die sterkolwer is aangewys as die Speler van die Toernooi nadat hy 578 lopies in tien wedstryde aangeteken het.

Engeland se prysgeld is die meeste tot nog toe in ’n internasionale kriekettoernooi.

Berigte uit Brittanje sê die Engelse spelers het in die aanloop tot die eindstryd besluit hulle sal die prysgeld gelyk verdeel indien hulle seëvier.

Die veelsydige Ben Stokes, die Speler van die Wedstryd, verdien jaarliks £900 000 (meer as R15,6 miljoen) by die Engelse en Walliese Krieketraad. Dit is bo en behalwe sy wedstrydgeld en verdienste in die lonende Indiese Premierliga (IPL).

Dit is bykans ses keer meer as die jaarlikse kontrak van $236 000 en $50 000-kapteinskapbonus wat Williamson by die NZC verdien.

Indië se kaptein, Virat Kohli, se kontrak met die Indiese Krieketraad beloop R339 miljoen per jaar.

Sy IPL-salaris vir die Royal Challengers Bangalore, plus sy borgskappe, beteken sy totale jaarlikse verdienste trek glo by R900 miljoen.

– Sportredaksie

Meer oor:  Swartpette  |  Wêreldbekerkrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.