Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
G’n opwinding in leë stadions, sê Pep en Virat
Krieket is nie dieselfde sonder toeskouers nie, sê Virat Kohli. Foto: Getty Images

Toe Virat Kohli ná maande weg van die veld weens die Covid-19-pandemie eindelik weer ’n krieketwedstryd kon speel, was hy uit sy vel van opgewondenheid, maar die werklikheid van spel agter geslote deure het gou ’n demper op sy geesdrif geplaas.

Dié 31-jarige kolwer, wat tans in die Indiese Premierliga (IPL) in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) in aksie is, het onlangs in ’n Instagram-gesprek van Puma so effens die sluier gelig oor die uitdaging van sport in die tyd van die koronavirus.

Hy en Pep Guardiola, afrigter van die Engelse sokkerklub Manchester City, het met mekaar gesels.

Die IPL het in September in die VAE begin, sonder toeskouers by enige wedstryde – soos wat omtrent wêreldwyd in alle sportkodes die geval is.

Toe ek egter op die veld stap, het my gemoed gesak. Daar was net mooi niks. Al die opwinding was daarmee heen.
Virat Kohli

“Ons was so opgewonde toe ons hier aangekom het. Dit was die eerste wedstryd in ses maande. Toe ek egter op die veld stap, het my gemoed gesak. Daar was net mooi niks. Al die opwinding was daarmee heen,” sê Kohli, kaptein van die Royal Challengers Bangalore.

Hoewel Guardiola erken dat die huidige situasie nie ideaal is nie, het hy nie doekies daaroor omgedraai dat hulle die toeskouers mis nie.

“Dit is nie dieselfde sonder mense nie. Dit is soos iets anders, omtrent soos ’n vriendskaplike wedstryd. Ons moet dit doen, want dis ons sport en die mense kan dit steeds op televisie volg, maar dit is nie dieselfde nie.

“By restaurante kook die sjefs vir die mense. So, ons het die mense weer nodig, natuurlik sal hulle terugkeer as alles weer veilig is. Dit is ’n ander spel . . . jy voel leeg. Die goeie oomblikke is minder goed,” sê Guardiola.

Pep Guardiola gedurende ’n onlangse wedstryd tussen Manchester City en Leicester City. Foto: Getty Images

“Ons mis die ondersteuners, om agter geslote deure te speel is aardig. Op kort termyn is dit oukei, maar nou dat die nuwe seisoen begin en ons die hele tyd so moet speel, besef jy dit sal moeilik wees.”

Wat Guardiola sê, stem ooreen met wat akteurs dikwels in die wêreld van toneelspel ervaar. Dit gaan oor die interaksie met mense. Akteurs sal soms sê dat hulle met teater as’t ware energie van die gehoor af kry – juis wat Kohli-hulle mis.

Kohli het ook die Spanjaard, wat Manchester City in die 2017-’18- en 2018-’19-seisoen na die titel as Engelse Premierliga-kampioen geneem het, uitgevra hoe belangrik ’n speler se karakter is wanneer hy na potensiële aanwinste kyk.

“Ek dink ons sien meer die vaardighede (van ’n speler), maar ons moet meer fokus op die karakter. Vir karakter moet jy rondvra, maar met vaardighede weet jy, want jy sien video’s waar die spelers speel.

“Maar karakter gaan daaroor hoe hy die moeilike situasies hanteer. Jy kan die vaardighede hê, maar as jy nie moeilike situasies kan hanteer of die ambisie het om beter te word nie, help dit nie.”

Die volledige gesprek op Instagram:

 
Meer oor:  Virat Kohli  |  Pep Guardiola  |  Indie  |  Engeland  |  Covid-19  |  Kaptein  |  Afrigter  |  Krieket  |  Instagram  |  Manchester City  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.