Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Hulle was goeie pêlle en nooit jaloers’

Wanneer ander boulers moeg word, was Dale Steyn dié bouler wat ’n sesde of sewende rat sou vind om die Proteas met sy snelboulwerk weer in die saal te kry.

So het Morné Morkel, een van Steyn se mede-aanvangsboulers en ook boesemvriend, gesê oor die Proteas-legende wat vandeesweek sy uittrede uit toetskrieket aangekondig het.

Steyn het besluit om ná 93 toetse rooibalkrieket te groet en hom voortaan net op internasionale eendag- en T20-wedstryde toe te spits.

Ons werk hier is klaar, my maat. Hashim Amla en Dale Steyn groet mekaar en groet toetskrieket. Foto: Gallo Images

Hy het die gordyn laat sak op ’n loopbaan waarin hy 439 paaltjies platgetrek het – die voorste van enige Proteas-toetsspeler. Steyn het verlede jaar in die toetsreeks teen Pakistan die rekord van 421 paaltjies verbygesteek.

“Dale het altyd daardie vermoë om die uitklophou te plant in hom gehad,” het Morkel gesê.

“As hy daardie aanvanklike vlinders in sy maag eers stil gekry het, was hy onkeerbaar. Dis veral ná middagete dat hy die vermoë gehad het om vennootskappe te knak. Wat hy gedoen het in daardie tyd, was altyd ’n inspirasie vir ander.

“Sy manier van dinge doen, soos byvoorbeeld sy daaglikse oefeninge en hoe hy hom fiks gehou het – hy is een van die fiksste ouens in die span – al daardie harde werk wat hy van die veld af ingesit het, het hom die vrugte daarvan laat pluk.”

Steyn en Morkel het albei as jongelinge by die Titans hul voete in Suid-Afrikaanse krieket gevind, en dis daar waar hul vriendskap begin het.

Morkel onthou veral hoe hulle in die kar moes slaap wanneer hulle gewag het vir oefensessies.

“Dit was nie altyd maklik vir ons nie. Ek en Dale moes onder begin en het ons dae as jongelinge gehad. Ons het nie baie geld gehad nie en moes in karre slaap voor oefeninge. Dit was ’n interessante leerkurwe in ons lewe.

“Dit het ons voorberei op die meer as 90 toetse wat hy gespeel het en die amper 90 wat ek gehad het. Ons moes regtig hard werk. Dale het altyd daardie talent en vaardighede gehad en hy het dit so ontwikkel dat hy lank die voorste snelbouler in die wêreld was.”

Morkel skryf hoe hy en Steyn mekaar gedruk het om altyd beter te doen, of dit nou in ’n toets- of eendagwedstryd was of net op die oefenveld.

“Maar belangriker, ons het mekaar altyd ondersteun. Daar was nooit enige jaloesie nie. Ons wou altyd hê dat die ander een goed doen.

“In ons vrye tyd sou ons altyd by Pretoria gaan hengel. Dit, en veral die wildlewe, is passies wat ons van die veld af gedeel het.”

Meer oor:  Proteas  |  Morné Morkel  |  Dale Steyn  |  Toetskrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.