Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Graeme kies die hasepad oor KSA se gesloer

Krieket Suid-Afrika (KSA) se gesloer in sy kommunikasie met Graeme Smith het glo ’n groot rol in die voormalige Protea-kaptein se besluit gespeel om hom aan die wedloop om die pos van direkteur van krieket te onttrek.

Dít nadat KSA aanvanklik sowat tien weke terug na Smith uitgereik het om hom vir dié nuwe posisie te werf.

Die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith stel nie meer belang in ’n KSA-toppos nie. Foto: Jaco Marais

Smith was die oorweldigende gunsteling om in die pos aangestel te word. Trouens, ’n bron sê hy het so te sê die werk gehad, voordat hy vandeesweek aangekondig het dat hy hom aan die wedloop om die pos onttrek.

“Ná die nuus in die media hierdie week dat ek vir ’n onderhoud gegaan het vir die pos van KSA se direkteur van krieket, voel ek dit is nodig om te bevestig dat ek my belangstelling in die posisie verloor het,” het Smith Donderdagaand in ’n verklaring gesê.

“Ek sou gek wees daaroor om die rol te vertolk. Ondanks my duidelike begeerte om ’n verskil te maak, het ek nie gedurende die lang en met tye frustrerende proses die afgelope tien weke van besprekings die nodige vertroue ontwikkel dat ek die vlak van vryheid en ondersteuning sou kry om met die nodige veranderinge te begin nie.”

Volgens inligting het geld niks met Smith se besluit te doen gehad nie. Faf du Plessis, die huidige kaptein, het vroeër by ’n nuuskonferensie gesê geld is ’n groot hekkie wanneer dit daarby kom om oudspelers weer betrokke by krieket te kry.

Smith was gretig om die pos te kry, maar het bloot vertroue verloor in KSA se topbestuur, waaronder die uitvoerende hoof, Thabang Moroe, nadat dié gesloer het in hul korrespondensie met hom oor belangrike kwessies.

Dit herinner aan die TV-regte-kwessie tussen KSA en die spelersvereniging, Saca, wat so gesloer het dat Saca in Oktober ’n amptelike dispuut teen KSA verklaar het. Eers tóé het KSA geld oorbetaal wat hy onderneem het om te betaal vir spelers se TV-regte vir verlede jaar se Mzansi-superliga.

Die KSA-baas Thabang Moroe. Foto: Gallo Images

Moroe se KSA het verlede jaar ook gesloer in die onderhandelings met Saca oor ’n nuwe memorandum van verstandhouding. Die memorandum is drie maande laat onderteken, wat tot baie onsekerheid by spelers gelei het.

Volgens Rapport se bron wou Smith werklik ’n verskil in Suid-Afrikaanse krieket gemaak het.

Smith het dit self ook in sy kort verklaring op Twitter gesê.

“My passie vir ons land se krieket bly sterk en ek wens wie ook al die pos kry, net die beste toe. Ek sal aanhou om die spanne te ondersteun en my raad en leiding te gee waar ek kan.”

Verskeie spelers en kenners het hul teleurstelling te kenne gegee nadat Smith aan die wedloop onttrek het.

“Moeilike tye lê voor,” het die voormalige Protea Albie Morkel byvoorbeeld op Twitter geskryf.

Die kandidate wat oorbly, is Hussein Manack, Corrie van Zyl en Dave Nosworthy (sien berig hiernaas).

Moroe het in sy termyn reeds ’n geneigdheid gewys om “om te sien” na van sy bondgenote. ’n Voorbeeld daarvan is die verrassende aanstelling van Mpho Seopa as die uitvoerende hoof van Oostelikes.

Moroe het ’n verbintenis met die Gautengse Krieketraad as oudpresident van die unie. Manack ook en of dit in dié voormalige nasionale keurder se guns gaan tel, sal net die tyd leer.

Van Zyl het die pos waarnemend beklee voordat hy geskors is hangende ’n ondersoek na die TV-regte-kwessie.

Smith het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. KSA sê hulle is in verbinding met Smith, maar het geen verdere kommentaar te lewer nie.

Oorlog in die raadsale, vernedering op die veld: SA krieket ál dieper in moeras

Junie 2017: KSA kondig die T20 Global League aan.

September 2017: Haroon Lorgat, vorige uitvoerende hoof van KSA, verlaat die beheerliggaam ná probleme om die liga aan die gang te kry.

Oktober 2017: KSA kondig aan die T20 Global League word tot 2018 uitgestel. Franchise-eienaars wil slange vang.

April 2018: Onderhandelinge sloer om ’n nuwe memorandum van verstandhouding tussen KSA en die spelersvereniging Saca op te stel.

Junie 2018: KSA kondig aan die T20 Global League gaan nie plaasvind nie, maar vervang word deur ’n kompetisie (die Mzansi-superliga) met spanne wat deur KSA besit word.

Julie 2018: ’n Nuwe memorandum word beding.

November 2018: KSA onderteken ’n ooreenkoms met Saca vir spelers se beeldregtegeld.

Februarie 2019: Thabang Moroe, die nuwe uitvoerende hoof, stel voor dat hy aftekenreg kry op Protea-spanlyste. Hierdie reg word aan hom toegeken, maar kort daarna weggeneem.

Augustus 2019: KSA pos die ganse Protea-afrigtingspan en kondig ’n nuwe bestuurstruktuur aan, waarvolgens ’n spandirekteur (afrigter) van die Proteas aan ’n direkteur van krieket sal rapporteer, wat op sy beurt weer verslag doen aan Moroe as uitvoerende hoof. Enoch Nkwe word as die tussentydse spandirekteur aangestel en Corrie van Zyl as waarnemende direkteur van krieket.

Mei-Julie 2019: Die Proteas beleef hul swakste Wêreldbekertoernooi nóg. Hulle wen slegs drie wedstryde en kom nie naby ’n halfeindplek nie.

April 2019: KSA kondig aan hy wil plaaslike krieket herstruktureer van ses franchise-spanne tot 12 eersterangse spanne. Die skuif kan daartoe lei dat 70 spelers hul werk verloor.

April 2019: KSA verbied Saca om vergaderings by te woon.

Mei 2019: Saca dien hofstukke by die hooggeregshof in Johannesburg in om KSA se herstruktureringsplanne te keer.

Oktober 2019: Saca verklaar ’n dispuut met KSA weens die TV-regtegelde wat nog nie betaal is nie. KSA skors later in die maand vir Van Zyl, Naasei Appiah en Clive Eksteen oor die TV-regtekwessie; Saca sê dit is Moroe se skuld.

Oktober 2019: KSA skors vir Van Zyl, Naasei Appiah en Clive Eksteen oor die beeldregtekwessie; Saca sê die is Moroe se skuld.

Oktober 2019: Die Proteas kry ’n vernederende loesing in ’n toetsreeks in Indië.

November 2019: Graeme Smith onttrek hom aan die wedloop om as KSA se direkteur van krieket aangestel te word, omdat hy vrees hy gaan nie genoeg vryheid kry om die nodige veranderinge aan te bring nie.


Meer oor:  Graeme Smith  |  Ksa  |  Thabang Moroe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.