Graeme Pollock is Maandag uit die hospitaal ontslaan en is terug by sy woning in die Evergreen Lifestyle Village Broadacres-aftreeoord in Johannesburg.
Pollock (76), wat as een van die beste Suid-Afrikaanse krieketspelers nóg gereken word, sukkel al geruime tyd met sy gesondheid nadat Parkinson se siekte en kolonkanker by hom gediagnoseer is.

Graeme Pollock en Mike Proctor verlede jaar by die Wêreldbeker-toernooi vir spelers bo 50 in Kaapstad. Hulle was ambassadeurs van die toernooi. Foto: Gallo Images
Sport24 het Maandag berig Pollock is onlangs in die hospitaal opgeneem en het ’n liesoperasie ondergaan.
Roger Moult, ’n familievriend, het Dinsdag aan Netwerk24 bevestig dat Pollock terug is by die huis en dat “sy toestand verbeter het”.
Pollock se gesondheidsprobleme het die laaste paar jaar finansieel ’n tol op hom geëis. ’n Aanlyn geldinsamelingsprojek, oftewel skarebefondsing, is geskep om te help om sy lewenskostes in Evergreen Lifestyle Village te dek.
Portrette van Pollock deur die kunstenaar en oud-speler Richie Ryall word ook verkoop om geld in te samel. Slegs 100 van dié portrette is beskikbaar en mense wat R150 per maand, of ’n eenmalige bedrag van R2 000, aan Pollock skenk, ontvang ’n getekende portret.
Gholfdae word ook beplan om geld vir Pollock in te samel.
Hy het Suid-Afrika tussen 1963 en 1970 in 23 toetse verteenwoordig voordat die isolasiejare sy loopbaan kortgeknip het. Hy het 2 256 toetslopies teen ’n gemiddeld van 60.97 aangeteken, wat sewe honderdtalle en 11 vyftigtalle insluit.
Hy is in 2009 in die Internasionale Krieketraad (IKR) se Heldesaal ingehuldig. – Sportredaksie
• Klik hier vir die skarebefondsing-projek.