Omdat hy voel hy sou nie genoeg “vryheid en ondersteuning kry om die verlangde veranderinge te maak nie”, het Graeme Smith homself onttrek as ’n kandidaat om as Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket aangestel te word.

Graeme Smith. Foto: Getty Images
Dit het die naweek bekend geword dat die voormalige Protea-kaptein ’n onderhoud met KSA gehad het om in dié pos aangestel te word.
Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof, het ná die Wêreldbeker-misoes ’n nuwe bestuurstruktuur by die beheerliggaam aangekondig, waarvolgens ’n direkteur van krieket die lynhoof van die Protea-spandirekteur (hoofafrigter) sal wees. Moroe is weer die direkteur van krieket se lynhoof.
Smith was glo saam met Dave Nosworthy, Hussein Manack en Corrie van Zyl die kandidate op die kortlys.
“Ná die nuus in die media hierdie week dat ek vir ’n onderhoud gegaan het vir die pos van KSA se direkteur van krieket, voel ek dit is nodige om te bevestig dat ek my belangstelling in die posisie onttrek het,” het Smith Donderdagaand in ’n verklaring op Twitter gesê.
My passie vir ons land se krieket bly sterk en ek wens wie ook al die pos kry, net die beste toe.
“Ek sou gek wees daaroor om die rol te vertolk. Ondanks my duidelike begeerte om ’n verskil te maak, het ek nie gedurende die lang en met tye frustrerende proses die laaste tien weke van besprekings, die nodige vertroue ontwikkel dat ek die vlak van vryheid en ondersteuning sou kry om met die nodige veranderinge te begin nie.
“My passie vir ons land se krieket bly sterk en ek wens wie ook al die pos kry, net die beste toe. Ek sal aanhou om die spanne te ondersteun en my raad en leiding te gee waar ek kan.”
Van Zyl het in dié posisie waargeneem totdat Moroe hom en twee ander senior amptenare twee weke gelede geskors het hangende ’n ondersoek na die beeldregte-kwessie van verlede jaar se Mzansi-superliga.