Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Graeme wil KSA-pos voltyds beklee

Graeme Smith is aanvanklik net vir drie maande as Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket aangestel, maar hy het Woensdag erken dat hy dié pos graag voltyds wil beklee.

Smith het eers verpligtinge as ’n kommentator by die Indiese Premierliga tussen Maart en Mei. Wat met die geskorste uitvoerende hoof van KSA, Thabang Moroe, gaan gebeur, kan ook ’n invloed op sy besluit sal hê.

Graeme Smith, Suid-Afrika se direkteur van krieket. Foto: Getty Images

Maar Smith wil graag sy rol verder voer en praat reeds oor ’n klomp planne wat hy vir krieket in Suid-Afrika het.

“Dit is die doelwit (om voort te gaan). Daar is nog baie onsekerheid oor sekere aspekte oor waarheen KSA op pad is, maar ek werk daagliks daaraan om dinge in te stel waarop ons in die toekoms kan voortbou, en waarop ek kan voortbou,” het hy Woensdag by KSA se hoofkantoor in Johannesburg gesê.

Moroe is in Desember vir drie maande geskors hangende ’n ondersoek na verskillende aspekte van sy termyn. Dit is nog onduidelik wanneer uitsluitsel oor Moroe se saak verkry sal word.

Intussen is Smith hard aan die werk, en een van sy groot uitdagings is om te verseker ontwikkeling en transformasie vind plaas.

KSA het kritiek gekry oor die aanstelling van wit mense soos Smith, Jacques Faul (waarnemende uitvoerende hoof), Mark Boucher (hoofafrigter), Jacques Kallis (kolfafrigter) en Paul Harris (draaiboulkonsultant).

“Daar is baie emosie betrokke, maar baie van die veranderinge was wit mense wat ander wit mense vervang het – ek vir Corrie van Zyl, Jacques Kallis vir Dale Benkenstein, Paul Harris vir Claude Henderson en Mark Boucher ’n buitelander (Ottis Gibson).

Daar is baie elemente betrokke om die spel te groei en transformasie te bewerkstellig. Jy moet na die stelsel kyk en sien wat ingestel is. Baie geld word bestee, maar is dit doeltreffend? Indien nie, hoe verander ons dit?
Graeme Smith

“Die sleutel vir ons is om ’n plan te hê. KSA het die afgelope paar jaar honderde miljoene rande uitgegee op ontwikkeling en om die spel te groei, en ek bedoel dit letterlik. Dit het nie die aantal goeie spelers opgelewer wat ons wou hê nie, so dalk kan ons daarna kyk om meer strategies te wees.

“Daar is baie elemente betrokke om die spel te groei en transformasie te bewerkstellig. Jy moet na die stelsel kyk en sien wat ingestel is. Baie geld word bestee, maar is dit doeltreffend? Indien nie, hoe verander ons dit? Ek het hard daaraan gewerk die laaste paar weke.

“Daar is wel dinge wat ingestel is en as jy na die (transformasie)syfers kyk, het KSA ’n goeie taak verrig. Die eendaggroep wat ons nou vir Engeland gekies het, is baie progressief. Dit is egter nie altyd die boodskap wat oorgedra word nie, maar daar is ook mense met hul eie agendas. Dalk moet ons beter kommunikeer en hierdie feite beter oordra.”

Afrigting op laer vlakke – in alle geledere – is ook ’n gebied waarin hy verbetering wil sien en dit sal die o.19-span, wat hy tans erken teleurstellend is, verbeter.

Die groot kwessie wat beroepskrieket in Suid-Afrika heeltemal van koers af kan gooi, is die hofgeding tussen die spelersvereniging, Saca, en KSA. Saca het in Mei ’n aansoek om ’n hofbevel ingedien om te verhoed dat KSA se vorige leierskap plaaslike krieket van ses franchise-spanne tot 12 eersterangse spanne herstruktureer.

Die nuwe KSA-leierskap het ’n versoenende hand na Saca uitgereik en wou onderhandel, maar Saca eis dat die herstruktureringsbesluit eers tersyde gestel word voordat hy sy hofbevel sal terugtrek. Die spelers se huidige kontrakte eindig op 30 April en sonder klarigheid oor hoe die struktuur vorentoe daar gaan uitsien, kan daar nie nuwe kontrakte gesluit word nie.

Smith het bevestig daar is ’n herstruktureringskomitee opgestel om met die lederaad, wat uit die provinsies se presidente bestaan, te vergader. Dié raad moet ’n besluit oor die herstrukturering neem.

“Ek weet nie heeltemal wanneer daardie besluit geneem gaan word nie, maar dit moet vinnig gebeur. Ons kan nie spelers kontrakteer voordat dit opgelos is nie.”

Meer oor:  Graeme Smith  |  Ksa  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.