Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Groen lig vir Suid-Afrika se T20-reeks

Krieket Suid-Afrika (KSA) het hom gister daartoe verbind om ’n internasionale T20-toernooi in November aan te bied, maar daar lê nog baie harde werk voor voordat dit gaan realiseer.

Dié beheerliggaam se raad het sy amptenare tot 15 September gegee om kontrakte met uitsaaiers en borge te sluit.

Thabang Moroe

Rapport verneem daar is reeds met uitsaaiers onderhandel en daar is sterk gerugte dat die SAUK die uitsaairegte kan bekom, liewer as SuperSport.

Al is daar nog niks bevestig nie, lyk dit of die maatskappy Sony as ’n moontlik borg verkry is.

“Thabang Moroe, uitvoerende hoof, en sy span het met ’n kommersiële model vorendag gekom wat finansieel haalbaar is en die belofte bied van ’n langtermyntoekoms wat al die voorwaardes van die raad nakom,” het Chris Nenzani, KSA se president, Saterdag gesê.

Met die groen lig wat verkry is, beteken dit dat KSA net meer as ses weke het om die toernooi op die been te bring. Dit begin op 9 November met die eindstryd wat op 16 Desember beslis word.

’n Aankondiging oor die gasheer-stadions word vandeesweek verwag.

Ses spanne sal aan die toernooi deelneem. Kaapstad, Centurion, Johannesburg, Port Elizabeth en Durban is reeds van spanne verseker.

Sterk gerugte wil dit hê dat Paarl se Bolandpark eerder as Bloemfontein die sesde tuiste gaan wees.

Die kontraktering van spelers moet ook nog begin.

“Summer Slam” is een van die name wat vir die toernooi voorgestel word, maar nader besonderhede oor die reeks is nog nie bekend gemaak nie.

Een ding wat wel seker is, is dat September en Oktober besige maande vir krieketadministrateurs regoor die land gaan wees.

KSA en SuperSport se verhouding is ook nie op ’n goeie voet nie en bemiddeling is straks nodig. Daar is steeds krapperigheid nadat SuperSport onttrek het as minderheidsaandeelhouer met KSA in dié entiteite se vennootskap om die T20-kompetisie van die grond af te kry.

By gister se algemene jaarvergadering het KSA ’n gekonsolideerde wins van R350 miljoen aangekondig.

Die uitsaaier was glo skepties oor die toekoms van die toernooi. Daar was ook ’n gevoel dat SuperSport ’n te groot hap van die T20-geldkoek wou hê en dat dit KSA nadelig sou beïnvloed.

Daar is glo ook onenigheid onder die KSA-raad oor die SuperSport-kwessie.

Iqbal Khan, ’n onafhanklike raadslid, het ’n groot rol gespeel om die brûe te herbou ná verlede jaar se mislukte toernooi, maar sekere lede voel hy het sy magte oorskry.

Een voormalige eienaar in die T20 Global League oorweeg ook nog regsaksie.

Sameen Rana, eienaar van die Durban Qalanders, het Saterdag aan Rapport gesê sy prokureurs sal namens hom klarigheid by KSA soek.

“Ek het ’n gesprek met my regsmense gehad en hulle het duidelikheid van KSA nodig rakende die status van die briewe wat hulle aanvanklik aan ons gestuur het,” het hy gesê.

By gister se algemene jaarvergadering het KSA ’n gekonsolideerde wins van R350 miljoen aangekondig. Daar is geen verwysing gemaak na die sowat R220 miljoen se verlies wat met die mislukte T20GL gely is nie.

Prof. Shirley Zinn en prof. Steve Cornelius het die vakante poste as onafhanklike direkteure in die raad gevul.

Angelo Carolissen, die Bolandse president, en Zola Thamae, die president van die Vrystaatse Krieketunie, is as nie-onafhanklike direkteure verkies.

Meer oor:  Krieket Suid-Afrika (Ksa)  |  Supersport  |  Sauk  |  Chris Nenzani  |  Thabang Moroe  |  Krieket  |  T20-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.