Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Groentjie Archer steek Engelse vuur aan

Dit is seker te verstane dat Joe Root, kaptein van Engeland se krieketspan, vir die grootste gedeelte van Donderdag ’n bekommerde man was.

Die Engelse blitsbouler Jofra Archer vier Donderdag die paaltjie van die Aussie-kolwer Pat Cummins. Foto: Reuters

Die tuisspan het die eerste dag van die derde toets in die reeks om die As op Headingley in Leeds stewig in die saal afgesluit met Australië almal terug in die paviljoen vir 179.

Dit was egter nie asof Root die hele dag met ’n glimlag op sy gesig rondgeloop het nie. Om die waarheid te sê, hy het by tye bra bedruk gelyk.

Met reg ook. Hy het die loot gewen en die Aussies ingestuur om te kolf op ’n dag waar spel meer as een keer deur reën en swak lig onderbreek is. Net 52.1 boulbeurte is uiteindelik afgestuur.

Engeland se nuwe snelsensasie, Jofra Archer, het in die vierde boulbeurt toegeslaan deur van Marcus Harris, met slegs agt lopies agter sy naam, ontslae te raak. Maar reën het die spelers toe van die veld gedwing.

Tussendeur die onderbrekings het Usman Khawaja (8, 17 balle) gekom en gegaan, maar sy vertrek het David Warner en Marnus Labuschagne (74, 129 b) bymekaar gebring.

Die twee het 111 lopies om die derde paaltjie aangeteken voordat Archer toegeslaan het om Warner (61, 94 b) terug kleedkamer toe te stuur.

In daardie tyd wat Warner en Labuschagne voor die penne was, het Root se gesigsuitdrukking verklap dat sy brein oortyd werk.

Laat jy jou ry kry, ou maat! Die Engelse snelbouler Stuart Broad is oorstelp van vreugde nadat hy Usman Khawaja se paaltjie gekry het. Foto: Getty Images

Dit het natuurlik nie gehelp dat Chris Woakes en Ben Stokes aanvanklik met hul rigting en lengte gesukkel het nie.

Toe hy egter op die groentjie Archer se knoppie druk, is die deurbraak gelewer. Want skaars was Warner terug in die kleedkamer, of Travis Head word vir ’n nulletjie deur Stuart Board geboul.

Joe Root tydens Donderdag se eerste dag van die derde dag. Foto: Getty Images

Maar Archer het bloed geruik. Kort hierna het hy Matthew Wade gewys waar Dawid die wortels gegrawe het, deur dié Aussie ook vir nul uit te kry.

Die besoekers se kaptein, Tim Paine, het hom by Labuschagne aangesluit met die Aussies so effens in die moeilikheid op 139/5.

Die twee het die Aussies se skip so half na veilige waters gestuur voordat Woakes vir Paine op 11 lopies been voor paaltjie betrap het. En toe begin die Aussies een vir een verkrummel.

Archer het die dag afgesluit met ’n skitterende ontleding van  6/45 in 17.1 boulbeurte en het Root rede gegee om te glimlag.

Engeland sal sy kolfbeurt Vrydag met die begin van spel van stapel stuur.

Met die Aussies wat die eerste toets gewen het en die tweede wat onbeslis geëindig het, sal Root hoop dat reën of swak lig nie weer spel in die volgende paar dae ontwrig nie.

Telkaart

Meer oor:  Leeds  |  Headingley  |  Reeks Om Die As  |  Engeland  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.