Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Harde’ Boucher regte doepa vir SA

Die leisels van die Suid-Afrikaanse krieketspan sal tot ná die volgende Wêreldbekertoernooi gehou word deur Mark Boucher, voormalige Protea-paaltjiewagter, omdat die Proteas “ ’n harde man wat ervare is in internasionale krieket nodig (het)”.

Só het Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika (KSA) se waarnemende direkteur van krieket, gister oor die aanstelling van sy eertydse spanmaat gesê.

“Ons almal ken Mark se eienskappe en weet wat in hom steek,” het Smith bygevoeg.

Smith, wat Woensdag as KSA se nuwe direkteur van krieket bevestig is, het geen gras onder sy voete laat groei met die aanstellings van sleutelpersoneel vir die Proteas nie.

Graeme Smith by die mediakonferensie op Nuweland. Foto: gallo images

Benewens Boucher is Enoch Nkwe (waarnemende afrigter tydens die toer na Indië) tot 2023 as hulpafrigter aangestel, Ashwell Prince is die nuwe afrigter van Suid-Afrika A en Linda Zondi (voormalige sameroeper van die keurkomitee) is aangewys as onafhanklike keurder.

Zondi sal saam met Boucher, Nkwe en Faf du Plessis, die Protea-kaptein, as keurders optree. Hy is net tot die einde van dié seisoen aangestel, maar Smith sê dit het meer te doen met begrotings as enigiets anders.

Veral die lengte van Boucher se kontrak is ’n positiewe wending. Hoewel die aanstellings van Smith en Jacques Faul (waarnemende uitvoerende hoof) die afgelope week wyd verwelkom is, het dit nie alle onsekerheid uit die weg geruim nie omdat albei tydelik in dié posisies is. Dit het ook die verwagting geskep dat Boucher moontlik net vir die duur van die komende reeks teen Engeland die Protea-afrigter sou wees.

Sy vierjaarkontrak verseker egter ’n mate van standvastigheid vir die nasionale span.

Smith het gesê hy sal net tot volgende jaar se Indiese Premierliga (IPL) in sy pos wees. Hy is as TV-kommentator vir die IPL gekontrakteer. Hy het egter nie die moontlikheid van ’n terugkeer ná die IPL uitgesluit nie en gesê dit sal afhang van hoe die leierskap van KSA dan lyk.

Faul is ook net tydelik as uitvoerende hoof aangestel, met Thabang Moroe wat vir drie maande geskors is sodat ’n onafhanklike ondersoek na die gebeure by KSA gedoen kan word.

Sou hy van alle blaam onthef word, kan hy teen Maart terug in die stoel wees.

Boucher het bevestig dat die afgelope week se verandering in KSA se leierskap hom oortuig het om die pos te aanvaar.

“Ek was in die laaste paar maande baie krities oor die rigting waarin Suid-Afrikaanse krieket beweeg het, maar ek glo met Graeme en Jacques in plek is daar nou goeie leierskap,” het Boucher gesê.

Smith het gesê die Protea- en SA A-groepe sal Maandag aangekondig word en die Proteas sal reeds Woensdag saamtrek.

Sommige van die toetsspelers sal vir SA A teen Engeland speel omdat daar ’n gevoel is dat hulle meer daarby sal baat vind om deurgaans by die SA afrigtingspan te wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.