Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Harde werk wag in toetskrieket, sê Boucher
Mark Boucher, die Protea-afrigter. Foto: Gallo Images

Om te sien hoe die Proteas die Australiërs streepsuiker gee, is seker dié lekkerste lekker vir Suid-Afrikaanse krieketondersteuners.

Daarom is die deursnee Protea-ondersteuner betreklik positief oor die span tydens die gedwonge sporthiatus weens die Covid-19-pandemie.

Maar Mark Boucher, die nuwe Protea-afrigter, wil nie verlei word deur die skoonskip-reekssege waarmee Suid-Afrika die Aussies in Maart bloedneus gegee het nie.

Platgeslaan. Faf du Plessis, die Protea-toetskaptein, ná nog ’n kolfmislukking in die reeksnederlaag teen Engeland. Foto: Gallo Images

Hy het immers nie vergeet van die nederlae in die T20-reekse teen Australië en Engeland, of die toetsreeks wat hulle met 1-3 teen die Engelse verloor het nie.

“Ek het nou tyd gehad om na te dink oor die seisoen en die reekse teen Engeland en Australië en dit was nogal teleurstellend, om eerlik te wees,” het Boucher Woensdag gesê.

“Veral teen Engeland het ons nie gespeel soos wat ons wou nie.”

Boucher het in Desember oorgeneem as voltydse afrigter, ná groot drama en grootskaalse verandering binne Krieket Suid-Afrika (KSA).

Die voormalige uitvoerende hoof, Thabang Moroe, is tydelik geskors en deur Jacques Faul vervang, terwyl Graeme Smith as direkteur van krieket aangestel is.

Dié skuiwe, en ’n goeie oorwinning in die eerste toets teen Engeland in Centurion, het ondersteuners nuwe hoop gegee. Maar toe val die wiele af.

Suid-Afrika het die volgende drie toetse teen die Engelse verloor en die eendagreeks met 1-1 gedeel, voordat Engeland die T20-reeks met 2-1 beklink het.

In die T20-reeks teen die Engelse was daar positiewe tekens, maar die Aussies het Suid-Afrika weer twee groot klappe gegee onderweg na hul T20-reekssege met 2-1.

Aussie-slagters. Die Proteas vier fees nadat Anrich Nortjé ’n paaltjie in die derde eendagwedstryd teen Australië platgetrek het. Suid-Afrika het die reeks met 3-0 gewen. Foto: Gallo Images

Daarna het dinge uiteindelik begin kliek en Boucher se troepe het die eendagreeks met 3-0 gewen. Dít met ’n span vol groentjies, teen ’n sterk, ervare Aussie-eenheid.

“As ’n nuwe afrigtingspan het ons ’n paar vrae gevra en tog ’n paar antwoorde gekry – sommige goed en ander sleg,” sê Boucher.

“Die lig aan die einde van die tonnel was ons vertonings in die korter formate.

“Ons het baie herbouwerk om in toetskrieket te doen. Ons het ook ’n paar beserings opgedoen wat nie gehelp het nie.

“Die opwindende ding was om te sien hoe die ouens gegroei het in witbalkrieket.

“Ons het vir verskeie ouens kanse gegee en hulle het begin groei as ’n span en nie net op een spesifieke ou staatgemaak om die span te dra nie.”

Ons het vir verskeie ouens kanse gegee en hulle het begin groei as ’n span en nie net op een spesifieke ou staatgemaak om die span te dra nie.
Mark Boucher

Voor die reeks teen die Aussies was daar ’n groot afhanklikheid van Quinton de Kock om lopies te kry. Maar teen die Aussies het ander spelers, soos Heinrich Klaasen, Janneman Malan, Jon-Jon Smuts, Kyle Verreynne en David Miller na vore getree en lopies aangeteken.

“Die vertoning teen Australië was baie positief. Dis jammer die reeks teen Indië kon nie realiseer nie, dit sou goed wees om onsself as ’n jong span daar teen hulle te toets.

“Ek weet ons is nog nie ’n afgeronde produk nie en daar is nog vrek baie werk om te doen.”

Meer oor:  Mark Boucher  |  Faf Du Plessis  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Australie  |  Krieket  |  T20  |  Eendagreeks  |  Positief  |  Proteas  |  Afrigter  |  Toetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.