Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'Draaiers was nog nooit ons sterkpunt’

Simon Harmer glo die Suid-Afrikaanse draaiers se gesukkel in die onlangse toetsreeks in Indië lyk nog slegter omdat mense verwag hulle moet so goed vaar soos Indië se meester-draaibalboulers.

Ondersteuners moet ook in gedagte hou dat Dane Piedt, Keshav Maharaj en Senuran Muthusamy teen Indiese kolwers te staan gekom het wat wéét hoe om draaiers te benader.

Veral Piedt het deurgeloop en slegs twee paaltjies teen 155 lopies per paaltjie platgetrek.

Simon Harmer met sy trofee nadat hy aangewys is as die Engelse Graafskapspeler van die Jaar. Foto: Getty Images

“Indiese kolwers speel van jongs af teen draaiers,” sê die draaier Harmer, wat ná vyf toetse vir die Proteas ’n Kolpak-kontrak met Essex onderteken het en sedert 2016 daar speel. Sy laaste toets was teen Indië in Nagpur in 2015.

“Ek dink die fout wat jy kan maak, is om na die Indiese draaiers te kyk en met hulle te probeer meeding. Ravichandran Ashwin vat ses of sewe paaltjies en dan kyk mense na die Suid-Afrikaanse draaiers en verwag dat hulle ook ses of sewe paaltjies vat. Dít terwyl ons sterkpunt nog altyd ons naatboulers was.

“As jy na hierdie reeks (die afgelope een in Indië) kyk, het die Indiese naatboulers dit vir hulle gewen. Ons probeer teen hul draaiers meeding, terwyl dit nog nooit werklik ons tradisionele sterkpunt was nie,” sê Harmer.

Baie mense meen Harmer sou ’n verskil in Indië kon gemaak het. Hy het immers ’n paar skitterende seisoene in Engelse graafskapskrieket beleef en is vanjaar as die Graafskapspeler van die Jaar aangewys.

Hy wil nietemin daarteen waak dat die sukses wat hy in Engeland behaal, na sy kop toe gaan.

“Beroepsport gaan oor die vertonings wat jy insit. Daar gaan goeie en swak seisoene wees. As jy meegevoer raak as dit goed gaan en platgeslaan raak wanneer dit sleg gaan, kan dit ’n taai spel word,” sê hy.

Ek sal daarvan hou om steeds hier te speel. Suid-Afrikaanse krieket het vir my baie gegee.

“Ek probeer dus plat op die aarde bly. Ja, dinge het goed verloop onlangs, maar ek weet nie wat om die draai is nie. Ek moet aanhou hard werk en daardie ‘een persenters’ kry wat my beter kan maak. Hopelik kan ek bestendig goed vertoon oor die volgende paar jaar.”

Hy is tans terug in Suid-Afrika om weer vir die Jozi Stars in die Mzansi-superliga te speel, maar sal waarskynlik nie gou weer vir sy voormalige franchise, die Warriors, speel nie.

Dane Piedt onlangs vir die Cobras in die plaaslike meerdagreeks in aksie. Hy is in Indië na alle uithoeke van die veld gemoker. Foto: Gallo Images

Hy wil graag plaaslike krieket in Suid-Afrika speel om jong draaiers te help ontwikkel, maar dit kan nie meer gebeur terwyl hy ’n Kolpak-speler is nie.

“KSA het die reëls verander sodat franchises nie die geld wat KSA aan hulle gee, mag gebruik om Kolpak-spelers te betaal nie. Daar is ook ’n paar franchises wat met hul finansies sukkel, so dit maak dit moeilik vir hulle om fondse te kry om vir Kolpak-spelers te betaal.

“Ek sal daarvan hou om steeds hier te speel. Suid-Afrikaanse krieket het vir my baie gegee.

“As jy kyk na hoeveel spelers uittree en die spel verlaat, en dan kyk jy na nuwe spelers wat deurkom soos Jade de Klerk by die Warriors . . . Spanne het altyd ’n kolf- en naatboulkonsultant, baie selde het hulle ’n draaiersafrigter.

“Om dus nie spelers soos hy te kan help nie, is sleg. Toe ek deurgekom het, was Johan Botha daar, Nicky Bojé was daar. Hulle het my baie gehelp. Ek sal graag ook ’n bydrae wil lewer.”

Meer oor:  Mzansi-Superliga  |  Jozi Stars  |  Ksa  |  Simon Harmer  |  Draaiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.