
Quinton de Kock lig sy kolf nadat hy sy vyftigtal bereik het op die oggend van dag drie van die derde toets teen Pakistan op die Wanderers. Foto: Getty Images
Hashim Amla en Quinton de Kock het Pakistan se lot in die derde toets op die Wanderers, Sondag op die derde oggend waarskynlik verseël.
Die lopies het vrylik gevloei en Amla (71, 144 balle; 14x4) en De Kock (77*, 91 b; 10x4) het albei hul vyftigtalle in Sondag se eerste sessie bereik.
Die Proteas kolf ná die middagete op 232/7 voort, ’n voorsprong van 309 lopies. De Kock sal die beurt saam met Kagiso Rabada (4*) hervat.
Suid-Afrika het Sondagoggend voortgekolf met sy oornagtelling op 135/5 en die lopies het vinnig gevloei tussen Amla en De Kock.
Amla het eerste verby die vyftigkerf geskuif, met De Kock kort op sy hakke. Die paaltjiewagter het slegs 49 aflewerings nodig gehad om sy telling verby die mylpaal te voer.
Dié duo het ’n vennootskap van 102 van slegs 130 aflewerings gedeel, voordat Hasan Ali (1/61 in 13 boulbeurte) van Amla ontslae geraak het.
Die wyse waarop Amla sy paaltjie verloor het, sal die Protea-boulers wel opgewonde maak. ’n Aflewering wat op ’n goeie lengte geplant is, het skerp opgeskiet, Amla se handskoen geskaaf.
Die wyse waarop Amla sy paaltjie verloor het, sal die Protea-boulers wel opgewonde maak. ’n Aflewering wat op ’n goeie lengte geplant is, het skerp opgeskiet, Amla se handskoen geskaaf en in die kaptein en paaltjiewagter, Sarfraz Ahmed, se handskoene beland.

Vernon Philander
Vernon Philander (14, 33 b) het ook sy paaltjie verloor toe hy deur Mohammad Amir (2/53 in 17 bbe.) been voor paaltjie betrap is. Philander het ’n paar mooi trekhoue gespeel.
Die blad toon baie sywaartse beweging en ook oneweredige wip by tye. Dit is hoogs onwaarskynlik dat die brose Pakistanse kolflys die Proteas se teiken sal bereik. Hul hoogste beurttelling in die reeks is immers 294.
Met soveel tyd in die toets oor, sal Suid-Afrika egter so lank as moontlik wil voortkolf. Sodoende sal die blad ook tyd hê om verder te verweer.
Pakistan se gemoedstoestand is ook op ’n stewige afwaartse kurwe.
De Kock sal sy vierde toetshonderdtal in sy visier hê.