Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Hashim gaan Blitz-kolwers gratis help

Hashim Amla gaan die Cape Town Blitz dié seisoen in die Mzansi-superliga as ’n kolfkonsultant bystaan sonder om ’n sent vergoeding te vra.

Dit is hoe die Cape Town Blitz se breier, Ashwell Prince, gister Amla se rol by die Kaapse span verduidelik het.

Quinton de Kock is Maandag as die Cape Town Blitz se kaptein vir die komende Mzansi-superliga aangewys. Foto: Gallo Images

Prince het gister gesê hy hoop dat Amla die Kaapse span se jong kolwers kan help.

“Daar is ook baie stories die laaste ruk in die media oor die gebrek aan voormalige spelers se betrokkenheid by ons krieket. So dit was lekker om hom te nader en deel van ons groep te kry.

“Ek het hom gevra en hy het dadelik ingestem. Ek dink nie hy vra ons ’n sent nie, wat deesdae baie ongewoon is,” het Prince gesê.

“Die Blitz het ’n hele paar baie opwindende jong kolwers en Hashim sal hulle met sy uitgebreide ervaring hopelik kan help,” het Prince.

“Hy is ook uiters kalm. Ek en Faiek (Davids, hulpafrigter) sal die ander kant verteenwoordig, terwyl Hashim die kalmte bring.”

Amla gaan ook teen die Blitz in twee opwarmingswedstryd die week speel wanneer ’n gekombineerde span van die Westelike Provinsie en Boland die T20-franchise pak.

Hy vertrek volgende week vir twee weke na Dubai vir die Dubai Tiene-toernooi, maar sal daarna weer die span bystaan.

Die Blitz, wat verlede seisoen in die eindstryd van die toernooi verloor het, begin sy aanslag Vrydagaand teen die Jozi Stars op die Wanderers. Die Stars is einste die span wat die Blitz in die eindstryd getroef het.

Die Kapenaars se breier het ook bevestig dat Quinton de Kock die span sal aanvoer. De Kock was die Proteas se T20-kaptein op die onlangse toer in Indië, waar Suid-Afrika die louere met die tuisspan in die blitsreeks gedeel het.

Die Kaapse span het ook Maandag twee van sy oorsese sterre, Moeen Ali en Liam Livingstone, bekend gestel. Livingstone is ’n jong aanvallende speler van die Engelse graafskap Lancashire, waar hy saam met Prince gespeel het.

“Ashwell se laaste seisoen (vir Lancashire) was my eerste as ’n beroepspeler en ek het na hom opgesien. Dit is lekker om nou vir hom te speel,” het Livingstone gesê.

Ali was deel van Engeland se span wat vroeër vanjaar die Wêreldbekertoernooi in Engeland gewen het en is slegs beskikbaar vir die eerste twee wedstryde.

Hy is hier as ’n plaasvervanger vir die Pakistanse speler Wahab Riaz, wat die eerste twee wedstryde weens internasionale verpligtinge sal misloop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.