Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Herschelle hoop Indiër kan hom help

Herschelle Gibbs hoop om met die hulp van ’n eertydse Indiese teenstander sy terugkeer tot die krieketveld te maak.

Herschelle Gibbs is nog nie gereed om sy kolf vir goed weg te pak nie. Foto: Gallo Images

Op 43-jarige ouderdom is Herschelle Gibbs nog baie lus om Vader Tyd ’n streep te trek en later vanjaar in die T20 Global League (T20GL), wat in Suid-Afrika gehou word, te speel.

Gibbs het vandeesweek in Pretoria, waar hy betrokke was om die jong spelers van Krieket Suid-Afrika (KSA) se Akademie te help touwys maak, erken hy brand om deel van die nuwe T20-reeks te wees wat in November en Desember die lewenslig plaaslik sien.

“Die enigste probleem is dat my naam net nie in die groep van spelers is waaruit gekies gaan word nie. Ek was onder die indruk jy moet deel van ’n bestaande franchise wees om deel van die groep te wees waaruit gekies gaan word, en daarop het ek nie ingeskryf nie.

“Ek is egter beskikbaar en wil baie graag speel,” sê Gibbs, wat etlike jare gelede sy uittrede aangekondig het en in 2010 laas vir Suid-Afrika gespeel het.

“Ek het met Robin Singh (’n voormalige Indiese speler teen wie hy vroeër jare gereeld gespeel het) gepraat en dit lyk of hy die Bloemfonteinse span gaan afrig. Hy het my gevra of ek beskikbaar is vir hulle en ons sal nou maar sien wat gebeur,” sê Gibbs.

Volgens hom is hy ook genader deur Geoffrey Toyana, wat glo die Benoni-span se afrigter gaan wees, om die kolfafrigter te wees, “maar in hierdie stadium sal ek nog eerder wil speel as om af te rig.

“Ek voel nog soos ’n laaitie en het nog daardie jeugdigheid in my,” glimlag hy.

“Die laaste twee dae hier by die Akademie het ek meer oor krieket gepraat as in omtrent my hele lewe. Tog is dit lekker om jou kennis met hierdie jong ouens te deel en jy sien skielik hoe helder hul gesigte op as hulle verstaan wat jy vir hulle sê,” vertel Gibbs.

Jonty Rhodes het Suid-Afrika se belowendste jong krieketspelers vandeesweek met hul veldwerkvaardighede op ’n oefenkamp in Pretoria gehelp. Foto: Gallo Images

Iemand wat net so borrelend by dié oefenkamp was, is Jonty Rhodes, wat sy veldwerkkennis aan die groep oorgedra het.

As daar al ooit ’n jeugdige 47-jarige was, is dit onse Jonty.

Hy is steeds soos die rubberbal wat hy in sy speeldae was en het oorgeloop van entoesiasme toe hy van sy veldwerkgeheime met die spelers gedeel het.

“Daar is nie ’n handleiding oor hoe om veldwerk te doen nie. Ook maar goed so,” sê hy.

“Veldwerk gaan daaroor om die basiese dinge reg te doen en dit met oorgawe te doen. Ek is ook baie bly ons kry ’n T20-reeks. Dit sal Suid-Afrikaanse krieket die geleentheid gee om verder te ontwikkel en van die foute van die verlede reg te stel.

“Dit moet egter nie net oor die razzmatazz gaan nie, maar daar moet uitgereik word na die gebiede waar die spel in die verlede agterweë gebly het om ook daar ’n positiewe invloed uit te oefen,” sê hy.

Rhodes, wat vier maande van die jaar in Indië deurbring en die res van die tyd in Muizenberg woon, sê hy sal nie deel kan wees van ’n afrigtingspan van die eerste T20GL-reeks nie, want hy het hom reeds daartoe verbind om in November met krieketverpligtinge in Sri Lanka doenig te wees.

Meer oor:  T20gl  |  Herschelle Gibbs  |  T20  |  T20 Global League
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.